102 jaar jonk en nog vol humor

TANNIE Katriena van Loggerenberg is loshande Huis Karee, die tehuis vir bejaardes op Middelburg, se oudste inwoner!.


TANNIE Katriena van Loggerenberg is loshande Huis Karee, die tehuis vir bejaardes op Middelburg, se oudste inwoner!

Sy het op Woensdag, 26 September, haar 102de verjaardag gevier.

Twee jaar gelede het Tannie Katriena bykans ’n jaar lank beplan aan haar pragtige pienk partytjie wat sy self vir vriende en familie by Farmhouse Grill gehou het. Hierdie jaar het sy weer al die beplanning self gedoen, maar liewer haar vriende en vriendinne by Huis Karee onthaal.

Tannie Katriena is nog ’n aktiewe lid van die ATKV Renosterberg-tak op Middelburg. Verder is sy ook die oudste, langslewende lid van die ATKV in Suid-Afrika.

Elke Donderdag klim sy self in die bussie wat die inwoners na Spar neem vir inkopies en sonder moeite klim sy uit en gaan doen haar inkopies self. Sy maak ook daagliks haar kamer self skoon en loop sonder enige hulpmiddels na die eetsaal en sitkamer om saam met die res van die inwoners gesellig te verkeer.

By navraag oor wat haar gunsteling stokperdjie in die 102 jaar was, het sy tong in die kies vertel van die geleentheid toe ’n konsultant haar geskakel het om ’n produk aan haar te verkoop.

Ná verskeie vrae, het hy haar ook na haar stokperdjies uitgevra, waarop sy geantwoord het, “Eerstens rondloop en tweedens skinder.”

Almal wat Tannie Katriena ken, weet dat sy ’n regte platjie is en kon daar lekker saam gelag word oor hierdie kwinkslag.

You need to be Logged In to leave a comment.