DIE 10de en grootste Marco Wasserman-tennistoernooi het op 24 en 25 Augustus by die Hoërskool Middelburg plaasgevind.
Altesaam 99 tennisspelers vanuit die Oos- Kaap het aan die toernooi deelgeneem. Sewe skole het in die A-liga en vyf skole in die B-liga deelgeneem.
Hierdie spesiale dubbelstoernooi word jaarliks in Augustus deur die Hoërskool Middelburg aangebied ter nagedagtenis aan Marco en sy broer Christo Wasserman wat albei leerders van Middies was en albei 12 jaar gelede binne twee weke van mekaar in twee afsonderlike motor- fiets- en motorongelukke oorlede is.
As gevolg van hulle fantastiese sportmangees en liefde vir tennis, word hierdie tennistoernooi jaarliks deur Isabel Frewen van Middies en hul ma, Maryke Wasserman, gereël.
Die tennistoernooi wat oor twee dae strek, het Vrydag om 10:00 begin. Skole van sover as Port-Elizabeth (Pearson en Famesby), Global Academy van Jeffreysbaai en P.J. Olivier van Grahamstad het aan die toernooi kom deelneem.
Hierdie tennistoernooi het die afgelope 10 jaar so uitgebrei en gewild geword, dat Frewen jaarliks van die skole op die waglys moet wegwys aangesien daar net vir ’n sekere aantal skole plek is.
In die A-afdeling was Volkskool van Graaff-Reinet die wenners, met Framesby in die tweede plek, Union High derde en Middelburg vierde.
Union High was die wenners van die B-afde-ling met Volkskool tweede, Pearson van Port Elizabeth derde en Middelburg vierde.
Verskeie pryse is ná afloop van die toernooi deur Maryke Wasserman oorhandig. Die toernooi was weereens ’n groot sukses en is Frewen deur menige spelers, afrigters en ouers bedank vir die opbouende en geseënde naweek wat almal op Middelburg geniet het.
Tydens die ontspanne en vrolike atmosfeer wat by die tennisbane geheers het, was die Marco Wasserman-toernooi se “No Blame Game” leuse gedurig te sien wanneer spelers mekaar met ’n “hi-5” groet as teken dat die spelers me- kaar inspireer, motiveer en geen speler sy maat blameer vir ’n fout wat gemaak is nie.
Selfs die afrigters langs die bane het ook tydens die naweek brûe gebou en reeds weer hul plek vir volgende jaar se toernooi begin bespreek!
Die laaste en grootste prys van die dag was die “Blessings” bokse wat deur Spar op Middelburg geborg is. Vanjaar is dit aan twee skole, naamlik Pearson en Global Academy oorhandig.
Met ’n krakie in die stem en trane wat vlak gesit het, het Frewen die twee swaar bokse aan die twee skole oorhandig met die volgende woorde: “Omdat ons skool en dorp, Middelburg, so geseënd is, wil ons graag hierdie seëninge uit ons dorp na ander dorpe oordra en dit saam met hierdie twee skole stuur om dit aan iemand wat dit baie nodig het, te gaan gee en hulle daardeur te seën”.