2018 Summit Wildlife-veiling om die draai

’n BOERDERY-TENDENS wat in die Oos-Kaap aan die toeneem is, is die oorskakeling van tradisionele veeplase na wildboerdery en gespesialiseerde wildtelery, en vandag is daar ’n steeds groeiende aantal wildreservate en jagplase in dié malariavrye gebied


’n BOERDERY-TENDENS wat in die Oos-Kaap aan die toeneem is, is die oorskakeling van tradisionele veeplase na wildboerdery en gespesialiseerde wildtelery, en vandag is daar ’n steeds groeiende aantal wildreservate en jagplase in dié malariavrye gebied van Suid-Afrika.

Oorsese toeriste wil graag ’n tipiese Afrika-safari meemaak – sommige met die fo-kus eksklusief op bewaring, ander deur die lens van ’n teleskoop op ’n jaggeweer.

Albei hierdie opsies lok steeds toenemende getalle toeriste na die suidpunt van Afrika.

Dit kan ook nie anders nie, want Suid-Afrika en Namibië is die enigste twee lande ter wêreld waarin private eienaarskap van wildspesies toegelaat word – in ander wêreldlande behoort alle wildlewe aan die staat.

Dis juis híér waar Hennie Barnard in die prentjie pas. Vir die 15 jaar wat 2005 voorafgegaan het, was Barnard as helikopter- vlieënier deel van ’n groot wildvangspan.

Hierna het hy en sy vrou Joan hul intrek geneem op ’n wildplaas in die Aberdeen-distrik, en dit het nie lank geduur voordat plaaslike boere op Skietfontein kom inloer het om by Barnard te kom kers opsteek oor sy suksesvolle wildboerderypraktyke nie.

Die aantal wildprodusente in die omgewing het gegroei, en die idee van ’n eie veiling het begin posvat.

Rob Hobson, een van Wildlife Summit se lede, vertel: “Die Graaff-Reinet-omgewing is die tuiste van sommige van Suid-Afrika se heel beste teelwild, waaronder springbokke, gemsbokke en buffels. Ten spyte hiervan, het daar teen 2016 nog weinig wildveilings in die Oos-Kaap plaasgevind, veral in die omstreke van Graaff-Reinet.

“’n Groep entoesiastiese wildtelers het besef dat ons met ’n wenkombinasie sit: ui-ters gesogte wildspesies en die tradisionele, hartlike gasvryheid van die Karoo. En só is Summit Wildlife gebore.”

Die eerste Summit Wildlife-veiling in September 2016 was ’n wegholsukses wat alle verwagtinge oortref het. Ook die 2017-veiling se syfers was gunstig, ten spyte van tawwe marktoestande.

Mid-Karoo Express het verneem dat die lede van Summit Wildlife uit hul sukses ook terugploeg in twee liefdadigheidsprojekte in die omgewing: die Whitlock’s Care Centre in Jansenville, wat omsien na die behoeftes van persone wat spesiale versorging benodig, en die Klipplaat-remediërende leesprojek.

Fiona Hobson, Rob se eggenote, is betrokke by dié leesprojek. “In die Oos-Kaap is dit dikwels die geval dat skoolgaande kinders se ouers self nie kan lees nie, en dus hul kinders geen hulp kan bied met die aanleer van dié vaardigheid nie.

“By Klipplaat word die salarisse van twee voltydse remediërende onderwyseresse betaal ten einde te verseker dat kinders nie meer dwarsdeur hul skoolloopbaan beweeg sonder om behoorlike geletterdheid te bekom nie.

“Sonder die milde skenkings wat ons van Summit Wildlife ontvang het, sou die volhoubaarheid van dié projek ernstig in die gedrang gewees het.”

Vanjaar sal die Summit Wildlife-veiling op 29 September by die Botaniese Sportgronde gehou word. Die veiling val saam met die laaste Karoo-lus-fees wat dieselfde naweek in Graaff-Reinet gevier word.

Vir meer inligting oor die veiling en die liefdadigheidsprojekte, besoek dié webwerwe: www.summitwildlife.co.za; www.facebook.com/whitlockscarecentre of www.fiveloavestwofish.org.za.

You need to be Logged In to leave a comment.