Adams hardloop saam met wêreldkampioen

’N OUD-LEERLING van die Hoërskool Cradock is onlangs terug van Switserland waar hy in ’n hindernis-wedloop as begeleier van ’n blinde Suid-Afrikaanse kampioenatleet deelgeneem het.


’N OUD-LEERLING van die Hoërskool Cradock is onlangs terug van Switserland waar hy in ’n hindernis-wedloop as begeleier van ’n blinde Suid-Afrikaanse kampioenatleet deelgeneem het.

Xavier Adams (22), wat in Michausdal, Cradock grootgeword het, is ’n valskermtroep in Bloemfontein en moes onlangs kies tussen ’n offisierskursus of om saam met Louzanne Coetzee (24), ’n wêreldkampioen-atleet van Bloemfontein, in St. Gallen in Switserland te gaan deelneem.

Xavier, wat lid is by die Kov- siesatletiekklub, vertel dat hy, nadat hy Rufus Botha – Louzanne se afrigter – op die atletiekbaan ontmoet het, gekies is om saam met haar te oefen en kort daarna aangewys is om haar gids in veld- en baannommers te word.

Louzanne is ’n wêreldkampioen in die 5 000m vir gesiggestremdes.

Sy het die 5 000m rekord verlede jaar twee maal verbeter en ook die Suid-Afrikaanse 800m en 500m se rekords verbeter.

Sy het ook ander gidse wat haar in verskeie ander nommers begelei.

’n Dag nadat sy en Xavier aan die nasionale atletiekbyeenkoms vir gestremde atlete in Bloemfontein deelgeneem het, het sy en Xavier Switserland toe vertrek vir die studente-wêreldkampioenskappe in veldlope.

Oor die besoek aan Switserland, het Xavier vertel: “Dit was nie Louzanne se eerste besoek aan die land nie en ons albei het dit baie geniet.

“Die land is baie skoon, maar die mense se Engels is nie van die beste nie. Vir my was die tyd te kort en alles baie duur, maar as ek weer so ’n geleentheid kry sal ek weer wil gaan.”

Nadat hy en Louzanne die 10km landloop – wat op die oog af baie moeilik lyk – voltooi het, het Xavier ook in St. Gallen aan die 10 km welwillendheidwedloop vir Spesiale Olimpiade deelgeeem.

Terug in die land het Xavier ’n vinnige draai by sy ouerhuis in Cradock gemaak en saam met sy pa, Lucky Adams, aan die 41ste Bruintjieshoogte-marathon oor 25 km deelgeneem.

Xavier het ’n derde plek behaal. Hy het in ’n huis grootgeword waar hardloop ’n groot rol speel en waar sy pa, Lucky, reeds twintig keer aan die Comrades Marathon deelgeneem het.

“Louzanne inspireer my geweldig. As ek besef hoe sy met haar gestremdheid presteer, moedig dit my, met twee normale oë, geweldig aan,” het hy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.