WILLOUGHBY Lord (92) is ’n afgetrede boer van Hormeyr wat nou in die Erica Sentrum op Cradock woon. Hy is ’n dubbele Springbok-sportman, kampioen uithourit-perderuiter, outeur en nou ook kieriemaker van formaat.
Lord vertel dat hy in 1945 op ’n plaas in die Hofmeyr-distrik begin boer het. Met kieries as hulpmiddel het hy dit as ’n derde been vir homself gemaak om in die berge mee te stap.
“Gedurende die afgelope 25 jaar het ek af en toe kieries gemaak en aan kinders en famiie gegee. Omtrent twee jaar gelede het ek ernstig begin aandag gee aan die maak van olienhoutkieries met vlakvarktande as handvatsels,” het hy vertel.
Volgens hom neem hierdie kieries, met die hand gemaak, baie meer tyd en geduld om te maak. Om goeie, groot tande in die hande te kry, is ook ’n probleem.
Hy vertel dat hy in die afgelope tyd ongeveer dertig van die spesiale kieries gemaak het. Die kieries is baie in aanvraag by die Bergkwagga Nasionale Park waar reisigers en internasionale besoekers dit graag koop en sy kinders wil nou ook van die spesiale kieries hê.
Lord was ’n bekende boer en het op verskillende landbou-organisasies gedien. Hy was onder meer ook vir twintig jaar op die bestuur van die Oos-Kaapse Vleisprodusente-organisasie.
Hy vertel dat hy sy lewe lank tennis ge-speel het en in 2002 gekies is om Suid-Afrika in veteraantennis vir spelers van 75 jaar oud, te verteenwoordig by die wêreldbyeenkoms in Perth, Australië. Vyf jaar later het hy in die 80-plus-afdeling weer vir Suid-Afrika in Turkye gespeel waar die span sewende uit vyftien spanne gekom het en hy en sy maat ’n silwermedalje in die mansdubbelafdeling gewen het.
“As seun het ek op ’n perd grootgeword en later begin deelneem aan gimkana-kompetisies. Baie oefening is nodig om die kuns te bemeester en in 1963 was ek een van vier ruiters wat Suid-Afrika in Zambië verteenwordig het. Ons span het gewen en ons het Presidant Kaunda by die Ndolaskou ontmoet,” het hy vertel.
Uithouritte is ook ’n perdekompetisie waar man en perd oor lang afstande kompeteer. In 1979 is die eerste “Honderd Myler” (160 km) in die land by Hofmeyr gehou.
Lord het eerste gekom in ’n rekordtyd van 10 uur en 9 minute.
Joggie Jansen, oud-Springbokrugby-speler, het ná een so ’n Honderd Myler glo vir Lord gesê “So ’n rit eis meer van ’n mens se liggaam as ’n rugbytoets!”
Lord het ook ’n paar jaar gelede, glo op aandrang van sy vier skoondogters, ’n boek oor sy herinneringe en ander staal-tjies, geskryf. Daar was groot belangstelling en die hele oplaag is verkoop.