Agri OK sê boere moenie paniekerig raak nie

AGRI Oos-Kaap het sy lede gerusgestel om nie te vrees dat ’n moontlike Zimbabwiese soort grondgryp-aksie met hulle sal gebeur nie.


AGRI Oos-Kaap het sy lede gerusgestel om nie te vrees dat ’n moontlike Zimbabwiese soort grondgryp-aksie met hulle sal gebeur nie.

Douglas Stern, president van die organisasie, het onlangs beklemtoon dat die Suid-Afrikaanse grondwet sterk genoeg is om die voorgestelde beleidsveranderinge te weerstaan.

Stern het gesê dat meer as 4 000 plase reeds in staatshande is en net wag om aan nuwe eienaars oorgeplaas te word, en etlike scenarios eers moet gebeur voordat enige onteiening sonder vergoeding enige impak, indien enige, op die land sal hê.

Hy het daarop gewys dat die grootste struikelblok vir die beplande onteiening sonder vergoeding, die land se grondwet is wat die regte van alle grondeienaars in Suid-Afrika beskerm.

“Grondgryping, en onteiening sonder vergoeding is nie iets wat sommer kan gebeur nie, maak nie saak wat enigiemand anders daaroor te sê het nie. Die grondwet kan nie sommer net deur politici verander word nie, dit is ’n langsame en moeilike proses wat jare sal neem om te bereik.

“Stemwerwing vir aanstaande jaar se verkiesing het gevolglik baie daarmee te doen dat die saak nou geopper word. Dit moet in gedagte gehou word dat die aangeleentheid baie kontensieus is en is uiteraard ’n perfekte platform vir politici om stemme te werf,” aldus Stern.

Hy het daarop gewys dat voor die vorige algemene verkiesing daar kommer was oor gerugte dat boere 50% van hul plase aan hul werknemers moes gee. Hy sê daar het ook niks hiervan gekom het nie, behalwe om boere te ontstel.

“Die hele aangeleentheid oor die onteiening van grond sonder vergoeding is na my mening slegs ’n nuwe poging om stemme te werf voor volgende jaar se verkiesings. Ek voorspel dat hierdie poging om seksie 25 van die Grondwet te wysig, nie sal slaag nie,” het Stern gesê.

Hy het daarop gewys dat daar in hierdie stadium slegs ’n beleidsdokument in plek is, wat in elk geval nog openbare insette benodig.

“Afgesien hiervan sal die menseregtekommissie ontwikkeling baie fyn dophou, veral in die lig van die feit dat regerings nie sommer die reg om grond te besit kan wegneem nie.

“Het die politici al enigsins gedink aan wat met grond sou gebeur indien dit ooit onteien sal word? Aan wie sal dit gegee word? Wie sal verantwoordelik wees vir die skuld verskuldig vir enige gegewe stuk grond, of plaas?

“Tans sit die staat met sowat 4 000 onproduktiewe plase in hul besit. So, hoekom word nog plase benodig? Hierdie onproduktiewe grond kan sekerlik gebruik word? Die ekonomiese impak van om grond ‘te vat’ sal katastrofies wees soos deur etlike ekonome uitgewys is.

“Voedsel- en arbeidsekuriteit sal uiters negatief geraak word, en armes sal nog armer word deur so ’n onverskillige optrede,” het hy gesê, en daarop gewys dat daar baie suksesvolle swart kommersiële boere is wat hulle plase deur middel van die vryemarkstelsel bekom het.

You need to be Logged In to leave a comment.