ALTA Triegaardt is al vir de-kades bekend as die doyenne van spyseniering en is welbekend in Bedford, Kookhuis, Somerset-Oos en omliggende gebiede.
Alta is ook al 46 jaar lid van die Kookhuis VLV-tak en is ’n paar jaar lank voorsitter. Sy is 44 jaar getroud met Lourens Triegaardt. Hulle het
vier dogters wat baie van kook en bak by hul bekwame ma geleer het.
Alta-hulle het onlangs van hul Bedfordplaas af ingetrek dorp toe, maar hierdie gewese kindertuinonderwyseres weier om af te tree.
Sy is dankbaar dat Somerset-Oos se gemeenskap hulle so gou in hul midde aanvaar het. Sy deel graag haar gunsteling “Hummingbird”-koekresep met lesers.
‘Hummingbird’-koekresep
1 blik fyngemaakte pynappel
4 eiers
2 koppies (500 ml) bruinsuiker
1 koppie (250 ml) kookolie
2 koppies (500 ml) koekmeel
3 teelepels (15 ml) fyn kaneel
2 teelepels (10 ml) bakpoeier
1 1/2 teelepel (7,5 ml) koeksoda
1 teelepel (5 ml) sout
1/2 teelepel (2,5 ml) “mixed spice” (opsioneel)
2 koppies (500ml) fyn gerasperde wortels
1/2 koppie (125ml) gekapte neute (opsioneel)
Metode
- Dreineer die blik fyngemaakte pynappel en hou die sap.
- Klits die eiers en die bruinsuiker saam tot lig en romerig.
- Klits 125 ml pynappelsap en die kookolie by die voorafgenoemde mengsel.
- Sif die koekmeel, fyn kaneel, bakpoeier, koeksoda, gemengde speserye en sout saam.
- Vou nou die meelmengsel versigtig in.
- Roer die pynappel, wortels en neute by.
- Gooi die mengsel in ’n ge-smeerde ringpan en bak teen 160°C vir ongeveer een uur tot gaar. Laat afkoel.
Versiersel
200 g margarien of botter
1 bakkie roomkaas
3 koppies (750 ml) versiersuiker
Knippie sout
Vanieljegeursel
Metode
- Klits baie goed saam en versier dan die koek.