SY het al meer as ’n duisend matriekafskeidrokke, trou-uitrustings, doop- en voorstelklere, Kersvaderpakke, uitrustings vir perderuiters en selfs beenkouse vir perde gemaak, maar gordyne? Aikona . . . sy weier om dít te maak.
Anita Brits vertel dat sy in 1992 haar dogter, Thalita se matriekafskeidrok gemaak het en omtrent vyf jaar daarna eers die dansrokmakery stadig maar seker begin het. Sy het toe ook begin om herstelwerk aan klere vir mense te doen.
“Ek het altyd ’n naaldwerkmasjien gehad, maar in 2002 het my kreatiewe sy ewe skielik sy kop begin uitsteek en het ek ook ’n omkapmasjien gekry. Dis toe wat ek begin matriekafskeid-rokke maak,” het sy vertel.
Die nuus van Brits se vaardigheid het vinnig versprei en sy maak deesdae ook rokke vir meisies van Steynsburg, Middelburg, Hofmeyr, Tarkastad, Adelaide en Bedford.
Sy het vertel dat sy en haar helper onlangs tot laat saans moes werk om die plaaslike voorbereidende skool se konsertklere klaar te maak. Die tema was “Around the world in 80 days” en hulle moes onder meer klere vir Kaapse klopse, dansers van Rio de Janeiro, Londen se paleiswagte, en mense van China, Egipte en baie meer maak.
Brits is ook die skepper van baie trourokke. Bruide bring prentjies van hoe hul rok moet lyk en sy pas patrone uit haar groot versameling aan om aan die versoek te voldoen.
Dit was onlangs vir haar ’n groot voorreg om haar eie kleindogter se trourok en dié van die gevolg te kon maak.
Op haar muur is onder meer ook ’n foto van ’n pragtige tradisionele isiXhosa aandrok wat sy onlangs gemaak het. Sy het deesdae ook ’n klomp aand- en trourokke wat sy uitverhuur.
Die voorbeelde van voorstellingsuitrustings, baba-doopstelle vir seuns en meisies, onderbaadjies, dasse en krawatte is oral in haar werkkamer te sien.
Sy moes selfs een keer ’n toga vir ’n predikant maak. “En hy kom sowaar net ’n paar dae voordat hy dit gaan gebruik met dié groot opdrag hier aan,” het Brits gesê.
“Die perdekouse het ek op versoek van ’n afrigter gemaak. Sy het gekla dat haar perde se bene in die ysige winteroggende so styf is dat hulle nie hul bes in die ryklasse kan doen nie. Vandat hulle my kouse dra is hulle glo soggens springlewendig.”
Wanneer dit tyd vir matriekafskeid is, werk sy lang ure, maar as dit verby is en sy geniet ’n bietjie stilte, neem haar man, Wikus, haar altyd see toe om langs die viswaters te gaan ontspan. Sy sê vandat Wikus afgetree het, sit hy hand by met die huiswerk. Hy bak graag brood en besorg elke week vir sy ma, Bettie (90), ’n vars tuisgebakte brood. Hy het selfs al vir die kerkbasaar brood gebak.