Anna gekies vir nasionale span

ANNA Blom is ’n energieke 16-jarige Middelburger wat sinoniem is met verskeie sportsoorte.


ANNA Blom is ’n energieke 16-jarige Middelburger wat sinoniem is met verskeie sportsoorte.

Anna is ’n uitblinker op vele sportgebiede soos atletiek, netbal, tennis en muurbal, maar die afgelope Junie-vakansie het Anna weereens bewys dat hokkie die sport is wat die dikste deur haar are vloei.

Vir die afgelope vier jaar ontvang sy hokkie-afrigting vanaf Ina Botha Karoo Hokkie-akademie in Graaff-Reinet wat kinders met soveel passie leer om die spel van hokkie te bemeester.

Vroeg reeds het Anna besef dat hokkie haar nog ver gaan bring en het sy jaarliks aan die Bokkieweek-proewe vir Griekwas gaan deelneem om haar liefde vir die sport te kan uitleef. Sy neem ook aan verskeie toernooie deur die jaar deel.

Anna het vir die eerste maal in 2015 aan die o.13 Bokkieweek in Kroonstad gaan deelneem toe sy die Griekwas-span met netbal gaan verteenwoordig het.

Bokkieweek bestaan reeds 27 jaar en bied kinders geleenthede om hul sport op provinsiale vlak te beoefen. Altesaam 16 unies neem elke jaar aan Bokkieweek deel waar 3 500 sportmanne en -vroue op die gebied van rugby, netbal en hokkie meeding.

In 2016 het Anna die eerste maal haar stok op die gebied van hokkie gewys toe sy vir die o.14 Griekwas-hokkiespan gekies is om aan Bokkieweek deel te neem.

Haar talent is onmiddellik raakgesien deur die keurders en Anna het die nasionale span behaal. Sodoende het die 14-jarige toe vroeg reeds die voorreg gehad om saam met die nasionale span binnelands te toer waartydens hulle teen Kaapse skole soos Girls High en ander gespeel het.

In 2017 toer Anna na die buiteland saam met ECHS van Bloemfontein waartydens sy in Nederland gaan hokkie speel en teen internasionale klubs speel. Sy het ook by die wêreld se beste afrigters afrigting ontvang.

Vanjaar is Anna se hokkietalent weereens raakgesien toe sy uit 224 spelers gekies is as deel van die top 14-spelers vir die o.16-hokkiespan tydens Bokkieweek. Om alles te kroon is Anna aangewys as beste speler in haar posisie en boonop gekies vir die nasionale o.16-span wat in Oktober na Namibië gaan toer.

You need to be Logged In to leave a comment.