STOEPSTORIE: Antie Margaret se warm, moederlike omhelsing spoel oor my

DIE kwik staan digby die dertig grade toe ek voor die munisipale huisie in die skilderagtige Karoodorpie stilhou. Die parkie oorkant die huis is leeg.


DIE kwik staan digby die dertig grade toe ek voor die munisipale huisie in die skilderagtige Karoodorpie stilhou. Die parkie oorkant die huis is leeg.

’n Paar bokke knibbel aan die droë roes- bruin gras en langs ’n vervalle geboutjie lê ’n koei in die skaduwee en herkou. Met my laaste besoek hier was daar ’n glybaan, skoppelmaaie en ’n rondomtalie. En natuurlik kinders wat uitbundig baljaar het. Nou is daar niks. Seker onder die dekmantel van donkerte gestroop en as skroot van die hand gesit.

’n Man met ’n kruk onder een kieliebak kom moeisaam by die huisie se drie trappe afgestap en ontmoet my by die tuinhekkie. Hy gooi sy regterhand uit blydskap in die lug toe hy my herken.

Ek versteen toe ek oor die voordeur se drumpel trap. In ’n sofa in die piepklein voorhuis sit sy. Haar oë helder oombliklik op toe sy my sien en uit verbasing hang haar mond vir ’n wyle wawyd oop. My bynaam klink soos musiek in my ore toe sy dit saggies uitspreek. Gebukkend slaan ek my arms om haar waar sy in die rusbank sit en laat haar warm, moederlike omhelsing oor my spoel.

My hart klop in my keel en trane wel in my oë op. “Antie Margaret!” prewel ek terwyl my eie grys hare met dié van haar netjiese koeksustervlegsels komplimente uitdeel. Dis sulke oomblikke wat die rowe van toeka se politieke bestel en gedwonge verskuiwings weer van my vleis afskeur en oor my hart laat et-ter.

Want in my geboortedorpie het die hand- jievol families in ’n hegte eenheid saamgewoon. Saam het ons getreur as daar ’n sterfte was en ook saam gejubel as daar iets te viere was. Ek sien nog vir antie Margaret agter die toonbank van die winkeltjie waar sy werksaam was. Hoe sy fluks kruideniersware vir klante in groot, bruin kardoese pak.

’n Pragtige vrou in die fleur van haar lewe. Altyd met ’n glimlag op haar gesig. En nou sit ek na soveel jare weer hier teen haar.

Terwyl ons oë en ons harte die praatwerk doen. Sy is nou anderkant tagtig maar nog steeds straal die vriendelikheid uit haar ge-sig. Plek-plek kommunikeer ons in gebare-taal want die gehoor is deur die jare afge-stomp en Mnr. Alzheimer het homself ook ongenooid haar metgesel gemaak.

“Jy het mooi gevorder,” prewel sy glimlaggend terwyl sy na die boordjie aan my hemp wys. Ek voel eenklaps klein en nederig maar terselfdertyd ook trots.

Voor ek groet sê ek vir ons ’n gebedjie op en stop haar ietsie in die hand. Oumense is mos maar nes klein kinders. Sal altyd ’n geldjie of ’n soet dingetjie waardeer.

Toe ek in my motor klim het sy moeisaam tot by die deur geskuifel. Met haar oë sê sy, “bly nog ’n bietjie langer.”

Lank nadat ek my voertuig se neus huiswaarts gedruk het spook die ou wuifende handjie nog in my tru-spieëltjie. Ouderdom darem! En om te dink dat dit nog vir my ook gaan inhaal.

You need to be Logged In to leave a comment.