DS. Lee Greyling, dominee van die AP Kerk op Somerset-Oos, het die beroep Jeffreysbaai toe aangeneem en hy en sy vrou beoog om in Junie daar te begin.
Gelukkig is die egpaar, wat noue bande met Somerset-Oos het, nie heeltemal vir hierdie gemeente verlore nie aangesien Greyling steeds hier dienste sal kom hou.
Onlangs het die gemeentelede hul basaar gehou. Hulle het ’n perfekte herfsdag gekies en die braaivleisvure het vroeg gebrand. Allerhande lekkernye, groente, vleis en naaldwerkartikels is te koop aangebied.
Joh Faber is een van die raakvat-vroue wat op die foto wys dat sy lag-lag met vier panne kan pannekoek bak, maar sy sê sy kan wel ook meer as 10 panne op ’n keer gemaklik behartig.
’n Vrolike atmosfeer het die oggend geheers en die harde werk was nie tevergeefs nie aangesien hierdie fondsinsameling ten bate van die kerk, baie suksesvol was.