EK sit nou anderdag my lesbeurt en afwag by die jaarlikse lenteskool vir matrikulante. Deur my oop klaskamervenster luister ek na die vrolike gekwetter van voëls buite. Sommiges roep, ander fluit en dan is daar ook dié wat net in ekstase rondfladder.
Aan ’n tak van ’n jakarandaboom weef ’n geelvink fluks aan sy wyfie se nes. So in die rondvlieg word af en toe ’n insek uit die lugruim opgepik.
Dis weer daardie maand wat deur die digter C. Louis Leipoldt besing word as die mooiste van alle maande. Vanoggend het Piet-my-vrou ook vir die eerste keer vanjaar sy teenwoordigheid aangekondig.
’n Ligte briesie dra die bekorende geur van lemoenbloeisels uit die omringende boorde na my toe aan. Dit slaan bokant my snor teen my neusgate vas en ek trek dit waar-derend tot by my longe in.
Maar oor die bykans onbeskryf-like mooiheid van hierdie maand is ’n donker mantel gegooi.
Dié van ’n onbeheerbare brandstofprys wat ons land in ’n onvermydelike resessie boender. Want wanneer petrol die dag opgaan skiet die pryse van alles die hoogte in.
Miskien het dit tyd geword dat die groot ghoeroes van ons geliefde taal sekere intensiewe vorme be-kyk en herskryf.
Want peper beskou ek lankal nie meer as duur nie. Ek kan dit darem nog bekostig as ek ’n vleisie en worsie oor die kole wil gooi nadat my geliefde Bokkies hul opponente ore aangesit het. Maar petrol? Haikhona!
Kyk, wanneer ek deesdae by ’n vulstasie optrek om vol te maak staar ek net stip voor my uit. Dan tel ek die sekondes af en luister net vaagweg hoe daardie wielietjies in die agtergrond die rande en liters afhardloop.
Die skok laat ek maar vir die oomblik dat die joggie my kaart aanvra en ek daardie aardige bedrag eers sien wanneer ek my persoonlike kode intik. Met kontant betaal ek al jare lank nie meer nie.
Dit was elke keer vir my net té hartverskeurend om my eens boepmaagbeursie na ’n petrolopdoksessie plat en brandmaer in my broeksak terug te druk.
’n Onlangse besoek aan Mosselbaai het ’n diep duik in my bankba-lans gelaat, danksy einste dese voggies. Verbeel ek my of is ons sterk op pad na die jare van toeka se runderpes? Vele aande in my kinderdae het ons kleintjies oopmond ge-sit wanneer Oupa en Ouma ons stories daaroor vertel.
Aai, waar is die dae toe my geliefde oom Zol my met ’n halfkroon of twee en ’n Caltex blikkannetjie ge-stuur het om vir hom petrol by die enigste motorhawe op ons dorp te gaan koop en ou Regop, die joggie, my die voorreg gegun het om self met daardie outydse slinger te pomp?
Toe ’n vyfliter brandstof ’n skrale 35 sent gekos het en my taxibe– stuurder-pa sy hand nog bak kon hou vir kleingeld nadat hy met ’n pondnoot sy Zephyr se tenk volgemaak het.
Nee wat, hierdie Kersfees gaan ons land se paaie grafstil wees. Dis net die stinkrykes wat met vakansie sal kan gaan. Ek gaan my swaar gespaarde vakansiegeldjies liefs op krismisklere, ’n slagdingetjie en feesvoggies uitgee.
Om Jan Tuisbly se karretjie te ry is mos nie ’n skande nie. Daar staan tog immers geskrywe: Bly in jou nes – dan bly jy ongekwes.