IN hierdie moderne era van rekenaars en sel-fone word gesê “sitting is the new smoking”.
Navorsing het bewys dat die werwels en kus-sinkies in die lae rug drie maal meer drukking ervaar wanneer daar gesit word, en ná so min as vier ure se aaneen sit kan dit tot besering begin lei.
G’n wonder dat ’n geweldige aantal ure jaarliks verlore gaan omdat mense as gevolg van rugpyn nie kan gaan werk nie. Daarom was Middelburgers onlangs verheug om te verneem dat hulle nie nou meer ver hoef te reis om ’n chiropraktisyn se dienste te bekom nie.
Dr. Riaan Pieterse, wat reeds die afgelope ses jaar ’n praktyk in Graaff-Reinet bedryf, kom nou op Donderdae Middelburg toe waar hy ’n spreekkamer by P Olls Oogkundiges ingerig het.
Om in Suid-Afrika as chiropraktisyn te kwa-lifiseer behels ses jaar voltydse studies.
Mid-Karoo Express wou by Pieterse weet wát ’n chiropraktisyn doen.
“’n Chiropraktisyn is ’n neuro-muskuloskeletale spesialis. Ons behandel spier- en skeletale pyn en beserings met behulp van gespesiali-seerde manipulasiemetodes en kyk ook holisties na die oorsaak van die pyn.”
Op die vraag of mense steeds wanopvattings en vrese oor chiropraktyk koester, antwoord Pieterse dat dít gelukkig begin verander.
“Die meeste mediese fondse erken chiropraktisyns se dienste en verder is word of mouth, of dan hoorsê by verre die beste getuigskrif wat daar is. Van my aanvanklik mees skeptiese pasiënte is deesdae my beste adverteerders!
“Dis baie bevredigend om pasiënte te kan help wat gedink het dat chirurgie die enigste uitweg is.
“Chirurgie is baie ingrypend en hersteltyd gewoonlik lank, daarom is dit wonderlik om ’n pasiënt met behulp van gespesialiseerde manipulasies suksesvolle pynverligting en genesing te kan bied.”
Pieterse, wat self klubrugby in Frankryk en Ierland gespeel het, het nagraadse kwalifika-sies in sportbeserings asook in die behandeling van babas.
Op die vraag of hy sukses behaal met koliekbabas, ant- woord Pieterse baie optimisties: “Veral wanneer ’n baba met behulp van keisersnee gebore is, is die werwelkolom se belyning nie altyd reg nie en dan veroorsaak dit drukking op ’n senuwee wat pyn veroorsaak en ook spysvertering benadeel. Wanneer so ’n baba korrek behandel word, sien die moeë ouers gewoonlik reeds ná die eerste konsultasie dra-matiese verbetering.”
Pieterse sê hy sien ook baie skoolkinders wat met rugpyn sukkel as gevolg van te swaar tasse. “’n Kind se rug is nie gemaak om meer as 10% van sy eie liggaamsgewig te kan dra nie. Vandag se skooltasse is ver te swaar gelaai en dikwels veroorsaak dit pyn en skeletale probleme wat ’n kind lewenslank kan teister.”
Vir afsprake in Middelburg kan 049 842 1127 geskakel word.