ATKV-koorfees bevorder verhoudings

DIE Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) se algemene jaarvergadering het op 18 en 19 Julie by Klein-Kariba (net buite Bela-Bela) plaasgevind, en verteenwoordigers van oor die 300 takke landswyd en sover as Namibië het dit bygewoon.


DIE Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) se algemene jaarvergadering het op 18 en 19 Julie by Klein-Kariba (net buite Bela-Bela) plaasgevind, en verteenwoordigers van oor die 300 takke landswyd en sover as Namibië het dit bygewoon.

Die tema was “Innovasie en Opleiding”.

Gerrit Coetzee, voorsitter van Middelburg se ATKV-tak Rhenosterberg het namens die tak ’n toekenning ontvang vir ’n projek: “Kunste van uitstaande gehalte – koorfees 2017”.

Ian Rothmann, buitengewone professor in bedryfsielkunde aan die Noordwes-Universiteit, het die ATKV-vergadering oor die vierde industriële revolusie, waarbinne ons onsself tans bevind, toege-spreek.

Die vierde industriële revolusie is die vierde groot industriële era sedert die eerste industriële era wat in die 18de eeu begin het, en verwys na die ongekende vooruitgang in tegnologie wat meegebring het dat lyne vervaag tussen die fisiese, digitale en biologiese sfere.

Hoewel dié vooruitgang vele voordele vir die samelewing inhou, het veral rekenaartegnologie normale persoonlike interaksie reeds drasties begin inkort.

“Dit neem 30 sekondes vir ’n persoon om ’n goeie verhouding met ’n ander te bou deur eenvoudige lyftaal en oogkontak,” aldus Rothmann, maar dit gebeur nie meer nie, omdat tegnologie persoonlike interaksie en groepsinteraksie toenemend oorbodig maak.

“Mense werk in kokonne wat minder interaksie met ander benodig,” het Rothmann verduidelik.

Die ATKV-tak Rhenosterberg beywer hulle ’n geruime tyd al daarvoor om gemeenskapsbande te verstewig, en maak vanjaar wéér so deur hul jaarlikse koorfees op Donderdag, 18 Oktober om 19:00 in die NG Kerk Moedergemeente aan te bied.

Dit beloof om ’n aand van uitstekende koorsang en musiek vir die hele gemeenskap te wees.

Kore van Middelburg en omliggende dorpe word hartlik uitgenooi om in te skryf in een van die drie kategorieë, naamlik laerskoolkore, hoërskoolkore en senior volwasse kore.

Daar is prysgeld op die spel vir die beste koor in elk van die drie kategorieë, en die algehele beste koor van die aand loop met ’n ekstra kontantprys weg.

Vir navrae en inskrywingsvorms, kontak Gerrit Coetzee by 082 748 6841.

You need to be Logged In to leave a comment.