DIE jaarlikse Highgate Interprovinsiale tweekampkompetisie is op Saterdag, 3 Februarie in Oudtshoorn gehou en Volkskoolatlete het uitstekend gevaar.
Sowat 521 top atlete het hul pro-vinsies verteenwoordig op die tartanbaan en die olimpiese swembad. Die OP-span was baie kompeterend en het pro-rata die meeste medaljes en top 10 plekke verower.
Een van die jongste deelnemers was Mia Botha van die Laer Volkskool wat in die o.8-ouderdomsgroep deelgeneem het. Dit was haar eerste interprovinsiale deelname en sy het die opwinding en kompetisie baie geniet. Sy het sestiende geëindig en het veral mooi gehardloop.
Vir al drie die Crewe-Brown’s van die Hoër Volkskool was dit die vierde Highgate-kompetiesie wat hulle aan deelgeneem het. Marlien Crewe-Brown het as die beste OP o.15-atleet geëindig en was algeheel twaalfde.
Llewellyn Crewe-Brown het in die mans o.17 deelgeneem en het agtste klaargemaak. Hy het in die hardloop sowel as die swem sy persoonlike beste tweekamp tye opgestel.
Lizandri Crewe-Brown het die besonderse eer gehad om as die OP-spankaptein op te tree. Sy het ook as o.19-atleet deelgeneem en was vyfde algeheel.
Al die Volkskoolatlete het meer as 2 000 punte behaal wat hulle kwalifiseer vir die SA’s later vanjaar. Die volgende tweekamp is die OP-kampioenskapsbyeenkoms in Port Elizabeth en hierdie viermanskap beoog om weer die skool se naam hoog te hou.