Bakkie brand uit, brandweerwa staan

GEEN brandweervoertuie was beskikbaar toe ’n bakkie verlede Woensdag op die R56 na Steynsburg aan die brand geslaan en die aangrensende veld ook aan die brand ge-steek het nie.


GEEN brandweervoertuie was beskikbaar toe ’n bakkie verlede Woensdag op die R56 na Steynsburg aan die brand geslaan en die aangrensende veld ook aan die brand ge-steek het nie.

Die bakkie se eienaar (wat gevra het om anoniem te bly), was op pad terug dorp toe vanaf sy plaas, en het ongeveer 2km buite die dorp onraad gemerk.

“My sitplek het skielik onnatuurlik warm begin voel. Ek het omgekyk, my arm teen die bakkie se agterruit gebrand en net vlamme gesien,” vertel hy. “Daar gaan soveel gedagtes deur ’n mens se kop! Ek het net onmiddelik stilgehou en uitgespring.”

Die plaaslike brandweer is ontbied, maar het eers bykans twee ure later opgedaag na-dat ’n lid van die polisie hulle gaan optel het. Brandweerpersoneel Jayson Merrington en Phumeza Ngxalambiso het gespook om die omliggende veld, wat blitsig vlam gevat het in die tierende wind, se vlamme te blus. Hulle het slegs vuurplakke tot hul beskikking gehad.

Die brandweerwa staan reeds die afgelope ses weke in onbruik as gevolg van ’n koppelaarplaat wat nog nie herstel is nie. Grootfontein Landboukollege het met ’n watertenk kom help om die vlamme in die veld te blus, aangesien die brand aanliggende weidingsgrond van die kollege bedreig het. Meentboere is nou egter wel ’n stuk weiding kwyt.

Die bakkie, wat so onlangs as Augustus gediens is, het heeltemal uitgebrand. Die oorsaak van die brand kon nog nie vasgestel word nie, maar daar word vermoed dat ’n elektriese fout verantwoordelik kon wees. Die eienaar was alleen in die bakkie en niemand is in die voorval beseer nie.

Mid-Karoo Express het Nondumiso Twalo, direkteur van gemeenskapsdienste van Inxuba Yethemba Munisipaliteit in Middelburg, telefonies genader om te verneem wanneer die brandweerwa herstel sal wees.

Volgens haar het die aanvoerkettingbe- stuurder van die munisipaliteit aangedui dat die herstelwerk teen die einde van vandeesweek gedoen sal wees.

Die aanvoerkettingbestuurder van die munisipaliteit was nie bereid om Mid-Karoo Express te woord te staan nie, en het die koe-rant na die woordvoerder verwys. Ook die woordvoerder het teen saktyd nog nie terugvoer gegee nie.

’n Betroubare bron het aan Mid-Karoo Express gesê dat die munisipaliteit tans nie al sy krediteure kan betaal nie, en dat ’n gebrek aan finansies die spoedige herstel van lewensnoodsaaklike dienste soos dié van die brandweer, kniehalter. Die munisipaliteit hou eerskomende Saterdag, 15 September egter ’n familiedag waar munisipale werknemers elk vyf familielede kan nooi om dié dag saam te geniet. Die geleentheid word glo deur die munisipaliteit befonds.

Mid-Karoo Express kon ook nie daarin slaag om kommentaar van die munisipale woordvoerder oor die familiedag en die befondsing daarvan te kry nie.

You need to be Logged In to leave a comment.