Bakkies Botha woon Grootfontein se borgefunksie by

DIE rugbylegende, Bakkies Botha, het op 6 Junie as gasspreker by die Grootfontein Landboukollege se borgefunksie in Middelburg opgetree.


DIE rugbylegende, Bakkies Botha, het op 6 Junie as gasspreker by die Grootfontein Landboukollege se borgefunksie in Middelburg opgetree.

Tydens hierdie geleentheid is Grootfontein se Pannar-rugbyspan, wat van 2 tot 6 Julie aan die SA Landboukolleges-toernooi in Cedara by Pietermaritzburg gaan deelneem, aangekondig.

Nadat Bakkies se vlugskedule verander het, het hy besluit om spesiaal Woensdagoggend 04:00 vanaf Gauteng na Middelburg te ry om betyds by die geleentheid te kan wees.

Die studente, gaste en borge was voorwaar beïndruk met sy toespraak en verskeie vrae – van sy bekende duikslae tot of Chuck Norris vir hom bang is – is gevra.

Tydens sy toespraak het hy onder meer klem gelê op die belangrikheid van borge, aangesien hulle drome skep vir spelers en deur hul bydrae ’n groot impak op die span ook het.

Hy het ook die spelers daarop attent gemaak dat mens nie afhanklik moet wees van produkte en verkeerde middels om jou groter en sterker te maak nie – daar is nie ’n kortpad tot sukses nie.

As ’n boerseun het Botha sy prioriteite reeds van vroeg af reggekry. Tot o.16 by die Hoërskool Middelburg (Mpumalanga) het hy steeds vir die B- en C-span van sy skool uitge-draf en hy het eers in sy matriekjaar vir die eerste rugbyspan uitgedraf.

Die dag wat hy op sy matriekvakansie moes vertrek, het hy die oproep ontvang wat sy toe-koms drasties verander het. “Om gekies te word om professionele rugby jou toekoms te maak, is nie vir elkeen beskore nie”.

Hy wou nie hierdie geleentheid laat verbygaan nie en in plaas daarvan dat hy dus saam met sy vriende gaan kuier het op Margate, het hy ’n groot besluit geneem deur sy droom uit te leef en sy professionele rugbyloopbaan te begin.

“Julle het ’n talent, gawe en geleenthede van God gekry. Die groot besluit is of jy dit gaan vat en of jy gaan dit los?” het hy gesê.

“Julle moet as span respek hê vir mekaar, gaan verdien jou respek as speler vir jou span op die veld. Speel so dat jou spanmaats vir jou respek sal hê en dat jy dit verdien. Gaan geniet die Kollegeweek. Jy weet nie of dit dalk jou laaste kans of wedstryd is nie, so gaan speel en geniet dit voluit,” het Bakkies reguit met die spelers gesels.

Daar is drie dinge wat vir Bakkies baie belangrik is in rugby – hy noem dit sy “3 D’s”.

“Jy moet doelwitte en drome hê, maar saam met dit gaan dissipline!” het hy gesê.

Die rugbyvoorsitter van die Grootfontein-rugbyklub, Niel Schoeman, het ook by hierdie geleentheid die einde van sy termyn aangekondig.

Schoeman is sedert 1999 reeds betrokke by Grootfontein-rugby, asook as president van die SA Landboukolleges-rugbyvereniging.

Ná afloop van al die vrae, was die Pannarspan aangekondig en ’n wynveiling gehou.

Die afrigter vir Grootfontein-rugby is Alfred Tomana met Adriaan Stander (Bakkies) as die hulpafrigter.

Die spanbestuurder is Niel Schoeman, sekretaris Andries Pretorius en spanassistent is Darren Lemmer (Rooikat).

You need to be Logged In to leave a comment.