Bedford drenkelinge roerend gegroet

DIE twee neefs wat voorverlede Dinsdag in ’n plaasdam naby Adelaide in die Oos-Kaap verdrink het, is Saterdag onder wye belangstelling op hul tuisdorp, Bedford, ter ruste gelê.


DIE twee neefs wat voorverlede Dinsdag in ’n plaasdam naby Adelaide in die Oos-Kaap verdrink het, is Saterdag onder wye belangstelling op hul tuisdorp, Bedford, ter ruste gelê.

Lorenzo (18) en Manuel Adams (30), twee broerskinders, het verdrink toe ’n bootjie waaruit hulle op ’n dam visgevang, omgekantel het. Nog ’n familielid, Windrey Williams, wat ten tye van die voorval saam met hulle in die bootjie was, kon daarin slaag om na veiligheid te swem.

Die voorval het om 5.30nm gebeur en die oorledenes se lyke is tussen middernag en 1vm die volgende oggend uit die dam gehaal.

Roubeklaers van Bedford, Adelaide, Fort Beaufort, Cradock en omliggende stedelike gebiede het Bedford se munisipale saal tot oorlopens toe volgepak. Spreker na spreker het hulde aan die twee jongmanne gebring.

Die diens is deur die Word of Restoration-gemeente gelei en verskeie geestelikes het die twee bedroefde families bemoedig.

Pastoor Martin Olifant, wat die hoofboodskap gebring het, het die twee families versoek om nie in sak en as te gaan sit nie maar om “op te staan en te beweeg.”

Tydens die diens het geharde mans soos klein kinders gehuil en moes talle moeders vir floutes behandel word. Williams (28), wat saam met die oorledenes op die boot was, het kopskuddend by die kiste gestaan terwyl trane vrylik oor sy wange gerol het.

’n Familielid het in die bedankingsglefie diegene geloof wat hul eie lewens in gevaar gestel het deur na die oorledenes in stikdonkerte te soek.

“Naasteliefde en omgee vir mekaar is wat ons plattelanders onderskei van stedelinge,” het hy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.