DIE begroting van die Inxuba Yethemba Munisipaliteit (IYM) is Dinsdag aanvaar ten spyte daarvan dat daar nie ’n kworum by die vergadering was nie nadat DA-lede uitgestap het.
Die vergadering oor die hersiene konsepbegroting vir 2018/2019, wat in die gemeenskapsaal van Midros by Middelburg gehou is, was skaars op dreef, toe die DA raadslede, onder leiding van koukusleier Monde Desha, die vergadering verlaat het nadat hulle spreekbeurte geweier is.
Die vergadering is deur 16 raadslede bygewoon met twee wat verskoning gemaak het. Inwoners van Midros en Rosmead was ook teenwoordig.
Ten spyte van verskeie versoeke van die DA-raadslede om volgens prosedure insette te kan lewer op die hersiene konsepbegroting, is hulle deur die speaker, Maria Nortjé, stilgemaak.
Raadslid Handri Vorster is deur burgemeester Ray Shweni onderbreek en, ten spyte van pleidooie deur ander raadslede, nie toegelaat om insette te lewer oor die begroting nie.
Dít volg ná die DA die konsepbegroting, soos voorgelê op 29 Maart in Michausdal, verwerp het. Ook die nuwe konsepbegroting is deur die DA verwerp aangesien hulle van mening is dat indien tariewe tot só ’n mate styg, dit veral die mees hulpbehoewende inwoners van die IYM-gemeenskap sal benadeel.
DIE munisipaliteit wil erfbelasting en dienste verhoog met 5.3%. Die voorge-stelde styging in die koste van elektrisi-teit is 6.84%, terwyl huishoudings slegs 47kW gratis kry, in plaas van 50kW.
Nadat die sewe DA raadslede die vergadering verlaat het, het slegs nege ANC raadslede oorgebly. Hulle het egter onverstoord met die agenda voortgegaan.
Volgens die reëls van die raad, moet daar ’n kworum van 50% plus een lid teenwoordig wees ten einde ’n kworum daar te stel. Groot was die verbasing van die plaaslike inwoners wat die vergadering gadegeslaan het, toe hierdie reël verontagsaam is en daar met die vergadering voortgegaan is.
Maurice Hall, inwoner en besigheidsman van Middelburg, het gesê hy is dronkgeslaan dat die vergadering kon voortgaan in die afwesigheid van ’n kworum.
“Die vergadering was ’n klug! Gewigtige besluite is op hierdie onkonstitusionele vergadering geneem,” het Hall gesê.
“Altesame 65 000 inwoners in die wyke van Cradock en Middelburg se lewens gaan regstreeks geraak word deur ’n begroting waarin tariewe weereens styg, terwyl dienslewering steeds agteruitgaan en leë beloftes argeloos uitgedeel word.”
Volgens Hall en verskeie ander omstanders is dringende ingryping nodig.
“Dit is duidelik dat IYM se meerderheid raadslede hulle nie steur aan demokratiese prosedures nie. Dit skrei ten hemele dat ’n munisipale raad besluite kan neem sonder ’n kworum.
“Die speaker het ook geen geleentheid gebied aan raadslede om ernstige vraagstukke ten opsigte van die konsepbegroting te opper nie,” het Hall gesê.
’n Anonieme inwoner van Midros het gesê, “Ná hierdie vergadering wat ons as gemeenskap vandag as getuies bygewoon het, het ons alle vertroue in die ANC verloor. Ons mense kry swaar. Hoe gaan ons omstandighede verbeter as raadslede van ons wyke nie geleentheid gegun word om ons griewe te lug nie?”
Die woordvoerder van IYM, Kuhle September het aan Mid-Karoo Express bevestig dat die begroting goedgekeur is, maar het nie kommentaar gelewer oor die gebrek aan ’n kworum nie.
DA Raadslid Handri Vorster het gesê hulle beoog om die speaker en burgemeester by die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, Fikile Xasa, te rapporteer vir hul gedrag en die feit dat hulle die DA-lede verhinder het om hul punte te stel.