CHRIS Dalzell, bekende landskapstuinier met wêreldwye ervaring, was genooi om as gasspreker op te tree tydens die Tuinbou-klub van Steynsburg se damestee ten bate van die Marais Steyn-huis op Steynsburg.
Sy praatjie “Suid-Afrika, ’n nasie in blom” het die gehoor geboei vir meer as ’n uur, waartydens die pragtigste foto’s vertoon is van plante wat hy regoor Suid-Afrika gefotografeer het.
Dalzell is ’n tuinboukundige by die Durbanse Botaniese Tuine, en het ook vir ’n hele paar jaar die Suid-Afrikaanse tentoonstelling by die Chelsea-blommeskou hanteer. Hy het elke maal ’n goue medalje ontvang vir sy uitstekende interpretasie met Suid-Afrikaanse plantmateriaal. Hy het ook onlangs na Singapoer gereis waar hy sy botaniese kennis oor plante in daar-die deel van die wêreld gaan opskerp het, en hy is ook genader met die skepping van die tuine algemeen bekend as “Gardens of the Bay”.
Dezell organiseer ook graag plaaslike blomtoere na Namakwaland en is ook vanjaar reeds volbespreek. Hy doen natuurlik ook blomtoere na Thailand en Singapoer, en nooi enigeen uit om met hom kontak te maak sou hul belangstel om saam met hom te gaan toer.
Sy groot droom is om ’n volledige blom-toer regdeur Suid-Afrika saam te stel en dan sy toergenote aan al die verskillende flora oral in Suid-Afrika bekend te stel.
Hy is ook betrokke by die opstelling van die “Flora of the World” plant-databasis en beveel aan dat indien jy ooit ’n onbekende plantspesie raakloop, jy dit dadelik op die databasis kan gaan identifiseer en as dit nie daar voorkom nie, moedig hy elkeen aan om hom dadelik te kontak sodat daar nadere ondersoek ingestel kan word.
Dalzell skryf ook een maal per maand vir die Saturday Independent-nuusblad in KwaZulu-Natal en hierdie stukke van hom is ook beskikbaar op die internet.