Belastingbetalers maak gereed vir nóg ’n verhoging

TERWYL belastingbetalers in die Inxuba Yethemba-munisipaliteit (IYM) van die Cradock- en Middelburg-distrikte nog steier onder verlede jaar se 10%-verhoging in belasting, het die IYM-stadsraad pas op ’n raadsvergadering aangekondig dat belasting vir


TERWYL belastingbetalers in die Inxuba Yethemba-munisipaliteit (IYM) van die Cradock- en Middelburg-distrikte nog steier onder verlede jaar se 10%-verhoging in belasting, het die IYM-stadsraad pas op ’n raadsvergadering aangekondig dat belasting vir die 2018/19 jaar wéér met 5,3% gaan styg.

Lede van Cradock en Middelburg se boereverenigings is baie ongelukkig oor hulle geen kans gegun was om beswaar te maak voor die huidige belastingjaar ’n aanvang geneem het nie. Toe die styging by die boeregemeenskap bekend geraak het, was dit glo reeds te laat om beswaar te maak.

“Daar is eenvoudig vir ons gesê dat daar ’n kommunikasieprobleem was. Omdat hulle nie geweet het wie om by landbou te kontak nie, het hulle nie met ons gekonsulteer nie,” het Paul Collett, voorsitter van Cradock Distrik Landbou-unie, gesê.

Intussen het dit bekend geword dat die verpligte wyksvergaderings wat elke stadsraadslid ten minste elke twee maande met belastingbetalers moet hou, sedert 19 Augustus 2016 – toe die huidige raad hulle amp aanvaar het – nog nooit in Wyk 6, waaronder die boere val, gehou is nie.

Collett het gesê dat alhoewel hulle uit sekere geledere aangeraai is om belastings terug te hou, is dit nie die beleid van AgriSA om reëls te breek nie. Hulle wag op regsadvies voordat enige besluite geneem sal word. Intussen betaal die lede van die twee boereverenigings getrou hul maandelikse aanslae.

“Ons boere daag egter die 10%-verhoging uit aangesien dit hoër is as inflasie en op ’n tyd gekom het toe produktepryse gedaal het. Boere kan nie hul eie pryse vasstel nie so dit is onmoontlik om hierdie bykomende koste aan ons kliënte oor te dra,” het Collett gesê.

In die konsepbegroting vir 2018/19 verwag IYM ’n totale inkomste van net oor die R279 miljoen. Van die uitgawes wat gemeld word gaan 34.4% van die inkomste aan salarisse en lone bestee word, terwyl slegs 1,5% vir herstelwerk en onderhoud van bates in die twee dorpe geoormerk word.

Benewens die 10%-verhoging in salarisse word alles in die begroting – inkomstes en uitgawes – met 5,3% verhoog.

Een van die kostebesparingsmaatreëls wat IYM in die nuwe belastingjaar gaan probeer aanwend, is om oortydbetaling aan amptenare in te kort.

Op ’n wyksvergadering vir Wyk 5 in Cradock, wat op 10 April gehou is, het belastingbetalers besluit om ’n skrywe aan die stadsraad te rig waarin daar aangedui word dat hulle onder meer beswaar maak teen die duur motors wat vir die burgemeester en speaker gekoop is, die belastingverhoging, dat sekere fondse verkeerdelik aangewend word, asook die geweldige verhoging van tussen 55% en 60% vir die huur van munisipale woonstelle ten spyte van die kontrakte wat met huurders aangegaan is.

Geen munisipale amptenare, insluitend die burgemeester, munisipale bestuurder, bestuurder van finansies of die speaker het vir ’n spesiale vergadering met die Mid-Karoo Express, wat deur die burgemeester vir 6 April gereël is, opgedaag om die konsepbegroting met die media te bespreek nie.

Dié owerhede kon na verskeie pogings ook nie vir kommentaar bereik word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.