OP Vrydag, 18 Mei word internasionale museumdag gevier.
Hierdie dag dien as platform om die publiek te herinner aan die belangrike rol wat museums steeds speel in die samelewing, sowel as bewusmaking van die uitdagings wat museums vandag in die gesig staar. Wêreldwyd is toegang tot museums op dié dag gratis.
Mid-Karoo Express het vandeesweek gaan inloer by die Middelburg-museum, wat op die hoek van Bennie- en Du Plessisstraat geleë is. Die gebou dateer uit 1906 en het oorspronklik behoort aan die NG Kerk. Dit is aangewend as Armskool – ’n skool vir arm blanke kinders wat nie gewone skoolgelde kon be- kostig nie. Later jare is dit gebruik as houtwerk-afdeling van Karel Theron en in 1985 is die gebou oopgestel as ’n museum.
Mid-Karoo Express se korrespondent het die besoek met gemengde gevoelens verlaat. Dié museum het ’n kosbare versameling an-tieke kunsvoorwerpe en ’n pragtige versa-meling kunswerke van plaaslike kunstenaars. Voorts is een vertrek gewy aan die geskiedenis van plaaslike gemeentes en daar is ook ’n saal met ’n veldambulans, brandweerwa en lykswaens uit vervloë tye.
Afgesien van die ooglopende finansiële waarde van hierdie versameling, kan die kultuurerfeniswaarde hiervan nie in rand en sent gemeet word nie. Daarom is dit hartseer om te sien dat die uitstalling basiese onderhoud benodig.
Die huidige opsigter, Irene Duda, sê daar is heelwat praktiese frustrasies wat nog deur die munisipaliteit en die museumkomitee aangespreek moet word.
Tog is sy optimisties oor die voortbestaan van die museum. Die huidige voorsitter van die Middelburg-museumkomitee, Hubert Vorster, is dit eens, “Middelburg-museum is ’n kultuurmuseum. Dis vir ons belangrik om die geskiedenis te bewaar en tog ook relevant te bly vir die breë gemeenskap. Ons het ’n pragtige uitstalling oor die lewe van Nelson Mandela, ’n boorling van die Oos-Kaap, en is veral opgewonde oor ’n nuwe uitstalling wat eersdaags opgerig gaan word – verskeie boesmantekeninge en grotwonings is die afgelope jare in die onmiddelike omgewing van Middelburg ontdek. Professionele kennis is betrek by ’n projek om ’n replika van so ’n grot, met outentieke artefakte, op te rig.”
Volgens Steve Vorster, ook ’n komiteelid, word heelwat opknappings en opdaterings eersdaags aan die gebou én uitstallings begin. Hy het ook daarop gewys dat die museum eintlik net die vertrekpunt is vanwaar ’n groot aantal ander histories waardevolle plekke in Middelburg en omgewing besoek kan word.
Die museumkomitee nooi die publiek hart-lik uit om die museum te besoek.
Museum-ure is van 09:30-13:00 en van 14:00-16:00.
Diegene wat belangstel om by die Middelburg-museumkomitee betrokke te raak, kan Hubert Vorster by 076 389 1231 bel.