ESKOM het op 5 September te kenne gegee dat hulle weens volgehoue wanbetaling deur munisipaliteite beurtkrag vanaf einde Oktober gaan instel.
Die Inxuba Yethemba-munisipaliteit (IYM) is een van dié munisipaliteite wat nie sy rekeninge vereffen het nie. Oos-Kaapse dorpe wat onder meer daardeur geraak gaan word, is Middelburg, Willowmore, Jansenville, Aberdeen, Steytlerville en Komga.
Volgens Eskom se amptelike kennisgewing beloop Dr Beyers Naudé-munisipaliteit se skuld R40.5 miljoen, terwyl IYM se Eskomrekening R60 miljoen in die rooi is.
Daar is al verskeie kere afbetalingsooreenkomste aangegaan en ’n jaar gelede op 13 September het IYM op ’n vergadering met Middelburg se sakelui hulle die versekering gegee dat die nodige planne in plek is om dié skuld te vereffen teen R8 miljoen tot R9 miljoen per maand.
’n Amptelike kennisgewing van Eskom se voorneme om beurtkrag toe te pas is ’n week gelede in ’n Engelse dagblad geadverteer.
Belastingbetalers en sakelui is ontsteld, en in ’n prokureursbrief wat deur die balju aan verskeie hooggeplaaste munisipale amptenare beteken is, dring die Middelburg Forum aan op ’n verduideliking.
“Ons gaan hierdie ding nie hier laat nie,” het ’n gastehuiseienaar aan Mid-Karoo Express gesê.
“Die tyd toe die munisipaliteit ons skrywes kon ignoreer, is nou verby. Die wet is aan ons kant. Wat my betref, is die munisipaliteit besig met grootskaalse bedrog. Wetsgehoorsame inwoners koop krag en betaal rekeninge, maar die munisipaliteit dra skynbaar nie hierdie geld oor aan Eskom nie.”
’n Inwoner van Midros is van mening dat die munisipaliteit diskrimineer.
“Midros is een van die mees getroue betalende wyke. Waarom moet óns onder beurtkrag ly, terwyl die groot wyke in Cradock uiters swak betaal sonder gevolge. Die munisipaliteit sny nie húlle krag weens wanbetaling nie, maar in Midros en Middelburg sny hulle ons krag al is jy net een dag laat met betaling. Ons mense vertrou die munisipaliteit nie meer nie, en ek kan jou nóú sê, as óns beurtkrag kry, gaan die hare waai!”
Teen druktyd het IYM nog geen antwoord aan Mid-Karoo Express gegee oor waarom slegs Middelburg aan beurtkrag onderwerp sal word en nie Cradock ook nie.
Volgens die kennisgewing wat in die koerant gepubliseer is, sal die rooster vir beurtkrag as volg werk (tye wat krag af is):
Week 1
Maandae tot Vrydae 06:00-09:00 en 17:00-20:30
Saterdae en Sondae 08:30-12:00 en 15:00-19:00
Week 2 en daarna
Maandae tot Vrydae 06:00-20:00
Saterdae en Sondae 06:00-20:00