STOEPSTORIE: Bibberweer bring weer nostalgie

AS daar nou één ding in hierdie lewe is wat nostalgie by my aanwakker, dan is dit ’n lekker bibberweer, klappertandwinter.


AS daar nou één ding in hierdie lewe is wat nostalgie by my aanwakker, dan is dit ’n lekker bibberweer, klappertandwinter.

Niks laat my so na die verlede hunker soos ’n bruingebrande grasperk wat op ’n yskoue wintersoggend met spierwit ryp oortrek is nie. Kompleet nes ’n stralende bruid op haar troudag.

Wanneer die eerste sonstraaltjies die ryp laat begin ontdooi en sulke wit wasemwolkies van die grond af opstuur, voel dit of my gedagtes daarmee saam meegesleur word.

Ek voel weer die geknars van die ryp onder my brose kindervoetjies en sien myself opgewonde na ’n hopie vars beesmis huppel.

Net om my voete vir ’n wyle in die stomende mis te verwarm terwyl ek my verkluimde handjies ritmies teen mekaar vryf en myself vergaap aan die wasem wat by my eie mond uitborrel. By die skool sou ons kleintjies rondom die bloedrooi paraffien-verwarmer in ons kindertuin- klaskamer koek, terwyl ons rympies opsê en in kinderkoortjies sing ter voorbereiding vir reken, tafels en somme. Almal so soet soos stroop om daardie dik plastiekliniale waarmee ons dikwels oor die vingers geraps is vry te spring.

Ná skool sou ek in die veld vir Ouma droë miskoeke gaan optel waarmee sy ons getroue Welcome Dover aan die gang gehou het. Die een van wie se plate ons elke dag ’n stomende bord kos gekry en uit wie se borskas ons deur vele tuisgebakte brode gevoed is.

Ek hoor nog Ouma se teeketeltjie vrolik op ’n hoekie van die stoof sing en rondwieg en sien hoe sy twee teelepeltjies dik, geel kondensmelk uit ’n blikkie blaas en ritmies in haar teetjies klits.

Lank voor die winter het Oupa al ’n 5-gelling lampoliekan se ribbes met ’n hamer en beitel vol gate gekap en van ’n draadhingsel voorsien.

Hierdie “galley” of “mbawula” soos ons dit in ons dae genoem het, het vele wintersaande tot ons redding gekom.

Vroegmiddag het Oupa dit reeds met goeie doringhout gestook en met skemer die gloeiende kole by ons eenvoudige voorhuisie ingedra. Wydsbeen sou ons kinders dan almal knus om ons tuisgemaakte verwarmer stelling inneem terwyl ons smul aan Ouma se heilsame aandete van geurige boontjiesop en vingerlek-lekker murgbene.

My taak was om net voor slapenstyd die kan weer buite te gaan sit omdat slapende siele en kole wat koolsuurgas afgee die perfekte resep vir ’n tragedie is.

Onder die warmte van Ouma se dik lappieskombers, ondersteun deur Oupa se roesbruin oorlogjas, sou ek dan heel rustig op my biesiesbedjie op die grond van ons voorhuis aan die slaap raak.

Daar sou ek dan die soetste drome droom en eers die volgende oggend wakker skrik met die geur van Ouma se Mona-moerkoffie in my neusgate.

As mens maar net die wysers van tyd kon terugdraai . . .

You need to be Logged In to leave a comment.