CRADOCK het verlede naweek die laagste dagtemperatuur in ’n lang tyd beleef.

Die ysige wind wat Vrydag al gewaai het en die voorspelde reën vir Saterdag het veroorsaak dat slegs plaaslike spanne en een span van Fort Beaufort Vrydag meegeding het in die Hoërskool Cradock se jaarlikse o.13-kriekettoernooi.

Baie welkome reën het oor die distrik uitgesak en op sekere plekke is tot 50mm aangeteken. Sover vasgestel kon word, is geen grootvee-verliese aangeteken nie, maar boere het wel baie klein angora-bokkies weens die koue verloor.

Swaar kapokneerslae het voorgekom en berge in die distrik waar dit lanklaas kapok het, het ’n wit kombers gehad.

Boere, veral dié in gebiede waar fonteine lanklaas geloop het, is dankbaar vir die kapok wat weer die fonteine sal laat loop.

Sover vasgestel kon word, is die passasierstrein van die naweek tussen Port Elizabeth en Rosmead ook weens die swaar kapok gekanselleer.

Intussen is Middelburgers ook Saterdagoggend vroeg verras met fladderende kapokvlokkies wat in die dorp neergedaal het, berig Johanette van Heerden.

Aangesien dit ook gepaard gegaan het met reën, het die vlokkies nie genoegsame tyd gekry om ’n wit kombers in die dorp self te vorm nie.

Opgewonde soos kinders het motoriste koers gekies in Lootsberg se rigting (na Graaff-Reinet) om sneeufoto’s te neem, sneeumanne te bou en sommer net die gevoel van ’n spierewit lente te ervaar.

As ’n foto van sneeu by Jagtpoort se padstal iewers op sosiale media verskyn, weet inwoners al: dis tyd om die kamera en koffiefles te gryp en koers te kies na die sneeu by Lootsberg!

Min het Middelburgers egter geweet dat dit Saterdag in Noupoort, 20km noord van Middelburg selfs méér gesneeu het as by Lootsberg. Al die berge rondom Middelburg was teen Sondagoggend oortrek met sneeu.

Volgens die webtuiste www.bbc.co.uk is daar ’n 70%-kans dat daar moontlik weer ’n El Niño weerverskynsel voor die einde van 2018 kan plaasvind. Die vorige El Niño het in 2015/16 voorgekom en het ’n groot impak op die weerpatrone regoor die wêreld gehad. Alhoewel El Niño-verskynings gewoonlik elke 5 tot 7 jaar plaasvind, word daar gereken dat die reuse klimaatsveranderinge ’n impak mag hê op die vroeë verskyning van El Niño einde 2018.
(Bron:www.bbc.co.uk/news/science-environment-45471409)

You need to be Logged In to leave a comment.