Biblioteek aan Laerskool Michausdal geskenk

DIE AVBOB-stigting het verlede week ’n omskepte skeepshouer vol boeke aan die Laerskool Michausdal in Cradock oorhandig.


DIE AVBOB-stigting het verlede week ’n omskepte skeepshouer vol boeke aan die Laerskool Michausdal in Cradock oorhandig.

Dit was die vyftigste volledig toegeruste biblioteek wat hierdie organisasie aan verdienstelike skole landwyd geskenk het.

Felicity Meyer, die skoolhoof, het AVBOB bedank vir die pragtige gebaar wat die kinders se liefde vir lees en hul woordeskat sal uitbrei. Sy het die stigting ook bedank vir die vertroue wat hulle met hierdie skenking in die skool stel.

Volgens Mariaan Naudé van die departement van onderwys en opleiding is Michausdal besonder geseënd om die skenking te ontvang en moes hul skoolhoof in ’n uurlange onderhoud bewys dat die skool die groot geskenk waardig is.

Frik Rademan, uitvoerende hoof van die AVBOB-stigting, het gesê dat hul organisasie graag wil belê in die opvoeding van die jeug in die land en dat hulle ’n voortgesette leerkultuur onder jong kinders wil skep.

“Ons maak baie seker dat ons hierdie biblioteke by die regte skole plaas wat dit sal waardeer en daarna sal omsien,” het hy gesê. Hy het by-gevoeg dat elke kind sy eie lewe in sy eie hande het en nooit moet dink dat hulle minderwaardig is omdat hulle nie een van die sogenaamde deftige skole bywoon nie.

Rademan het ná sy toespraak ook bekend gemaak dat hulle die podium, waarop die sprekers tydens die oorhandigingseremonie gestaan het, aan die skool oorhandig. Hy het ook ’n kopie van William Gumede se boek, No Easy Walk to Freedom, aan Naudé oorhandig.

Volgens Meyer gaan die skool hom beywer om skootrekenaars en ’n fotostaatmasjien vir die biblio-teek, met sy pragtige fiksie en nie-fiksie boeke wat in grade opgedeel is, sowel as legkaarte en ander bib- lioteektoerusting, by te voeg.

You need to be Logged In to leave a comment.