Bobaas bakster deel geheime resep

JINNY Els, ’n inwoner van Cradock wat binnekort haar 80ste verjaarsdag gaan vier, is ’n bobaas koeksister-bakker wat onlangs besluit het om haar geheime resep met Mid-Karoo Express lesers te deel.


JINNY Els, ’n inwoner van Cradock wat binnekort haar 80ste verjaarsdag gaan vier, is ’n bobaas koeksister-bakker wat onlangs besluit het om haar geheime resep met Mid-Karoo Express lesers te deel.

Sy en haar man, Flip, woon al 26 jaar lank in Cradock en was albei kranige tennisspelers. Vriende en familie het gereeld op Jinny se nommer gedruk wanneer daar koeksisters benodig was.

Sy het onlangs nog hierdie lekkerny vir haar kleindogter, Tia van Gend, wat onlangs in Bloemfontein getroud is, se huweliksonthaal voorsien.


Koeksisters

Bestanddele:

. Stroop

12 koppies suiker

1½ teelepels kremetart, gelykvol

1 eetlepel goue stroop

6 koppies water

2 teelepels vanielje-geursel

. Deeg

4 koppies koekmeel (hoogvol)

1 teelepel sout

4 teelepels bakpoeier (hoogvol)

4 teelepels botter (hoogvol)

2 eiers

Ongeveer 500ml water


Metode:

  • Meng al die bestanddele vir die stroop en kook dit deur. Plaas dit oornag in die yskas.
  • Meng die meel en die sout.
  • Vryf die botter in totdat dit krummels vorm en voeg die bakpoeier by.
  • Meng die water in en vorm ’n deeg wat soos skondeeg lyk.
  • Sit dit in ’n bak en laat dit staan vir ongeveer twee tot drie ure met ’n klam doek oor.
  • Rol die deeg uit vir koeksisters (redelik dun).
  • Vorm die koeksisters en bedek dit weer met ’n klam lap terwyl dit bak.
  • Bak dit tot ’n mooi goudbruin in diep olie.
  • Nadat dit gebak is, dompel dit dadelik in yskoue stroop en hou dit vir ’n rukkie gedompel voordat dit uitgehaal en op draadrakkie gesit word sodat die stroop kan afloop.

You need to be Logged In to leave a comment.