HY hoop dat Oos-Kaapse boere wat nog vasgevang is in een van die ergste droogtes die afgelope 100 jaar op die een of ander manier sal baat by die R6 miljard droogtehulp wat deur die minister van finansies aangekondig is, het Douglas Stern, president van Agri Oos-Kaap, gesê.
“Ons as Agri Oos-Kaap verwelkom uiteraard die verklaring van die droogte as ’n nasionale ramp, aangesien groot dele van ons provinsie steeds in die kritieke, voortslepende droogte is wat ’n groot impak op boere se kontantvloei en produksiekapasiteit het.
“Ons hoop dat hierdie boere tog sal baat by die droogtehulp wat deur minister Zweli Mkize geoormerk is, hoewel daar geen spesi-fieke melding gemaak is van bystand vir kommersiële landbou nie,” het Stern gesê.
Hy het bygevoeg dat korporatiewe regering en tradisionele sake minister Mkize beklemtoon het dat die verklaring van hierdie nasionale ramp nie noodwendig gerig is op die voorsiening van fondse nie, maar eerder die instelling van spesiale maatreëls wat onder meer befondsing, verligting aan die publiek en die hantering van die impak van die ramp mag insluit.
“Hierdie befondsing, soos ek dit verstaan, sal baseer word op die behoeftes en ander tersaaklike omstandighede om die impak van die droogte aan te spreek. Die minister het ook beklemtoon dat die R6 miljard vir alle tipes rampe in Suid-Afrika aangewend kan word, waarvoor provinsies en munisipaliteite aansoek moet doen,” aldus Stern.
Hy het gesê die minister het egter genoem dat hulpbronne beskikbaar sal wees om dringende mediumtermyn verligting en langtermyn herstel van die droogte te verseker.
“Ons as organisasie sal volhou om die nasionale rampbestuursentrum te nader vir bystand aan ons boere wat geldelike ondergang en sosio-ekonomiese ontbering in die gesig staar,” het Stern gesê.
Meer as 5 000 stuks kleinvee in swak kondisie het die afgelope paar maande reeds weens skielike koue gevrek.
Baie boere in die Oos-Kaap, waar nog geen of baie min reën voorgekom het, voer hulle diere egter nie meer vir produksie nie, maar vir oorlewing, want hulle het basies net spaargeld oor om voer mee te koop.
Francois du Toit, voorsitter van die Rooi-vleis Produsenteorganisasie (RPO), het verlede week gesê die Oos-Kaap het sagte, deurdringende reën nodig om werklik ’n duik te maak in die droogte.
“Hoewel produsente altyd dankbaar is vir elke tipe reën wat uitsak, het donderbuie ’n mindere impak op weiding.”