Boere kan deur vennootskappe armoede help verdryf

VENNOOTSKAPPE tussen boere, privaat fondsverskaffers, beleggers en die regering kan ’n einde bring aan armoede en onderontwikkeling in landelike gebiede van die Oos-Kaap, het Mlibo Qoboshiyane, LUR van landelike ontwikkeling en grondhervorming, gesê.


VENNOOTSKAPPE tussen boere, privaat fondsverskaffers, beleggers en die regering kan ’n einde bring aan armoede en onderontwikkeling in landelike gebiede van die Oos-Kaap, het Mlibo Qoboshiyane, LUR van landelike ontwikkeling en grondhervorming, gesê.

Hy het tydens ’n funksie van die Old Mutual Masisizane-fonds ’n beroep op boere gedoen om vennootskappe met die fonds en ander beleggers te sluit en bygevoeg dat die provinsie met die implementering van die landbou-ekonomiese transformasie besig is.

Die transformasie het dit ten doel om boerdery in die kommunale gebiede te “kommersialiseer”. Kommunale boere moet landbou as ’n besigheid beskou en vennootskappe met privaat besighede sluit, aldus Qoboshiyane.

Die Masisizane-fonds het in 2013 die bedrag van R100 miljoen belê om kommunale boere in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal by te staan met ontwikkeling vir ’n periode van vyf jaar, wat in daardie jaar begin het.

“Daar moet gefokus word op uitbreiding, marktoegang, die skepping van ’n waardeketting en belegging in infrastruktuur,” het Qoboshiyane gesê.

“Ons wil landelike gebiede industrialiseer. ’n Vennoot moet verbonde wees aan plaaslike arbeid, oordrag van vaardighede en kapitale beleggings. Vennote moet bereid wees om risiko’s te neem, om belonings en hulpbronne in die boerderybedryf te deel.

Hy het ook die departement se ondersteuning van die vennootskappe tussen boere en die Masisizane-fonds beklemtoon.

“Ek steun die vennootskap ten volle. Die departement glo geen entiteit sal hierdie saak alleen kan aanpak nie, en daarom is vennootskappe belangrik. Die betrokkenheid van die jeug is kritiek vir die ontwikkeling van die provinsie. Landbou kan die grootste werkverskaffer wees teen 2040 en daarom moet die jeug betrokke raak,” het Qoboshiyane gesê.

Patrick Stuurman, verteenwoordiger van die boere, het gesê hulle was baie verbaas om te verneem watter bedrag deur die fonds en die departement in die betrokke plase belê is.

“Ons het nie so iets verwag nie. Selfs deur die droogte staan die departement en Masisizane-fonds ons by. Die samewerking tussen die fonds en die departement het ook gehelp met tegniese en administratiewe bystand vir die kommunale boere,” het Stuurman bygevoeg.

Zizipho Nyanga, Masisizane se uitvoerende hoof, het gesê die bedrag van meer as R160 miljoen van die maatskappy en sy vennote was om te verseker die grond wat vir baie jare ongebruik was, nou gebruik kan word.

“Ons wil produksie verhoog om sodoende opkomende boere kommersiële boere te maak.

“Ons wil hê swart boere moet so goed doen in die toekoms dat hulle kinders ten volle daarby kan baat,” het sy bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.