CHRIS Brits, wat in Afrikaanse musiekkringe bekend is vir sy uitmuntende konsertinaspel, wend voortdurend sy talent en ondervinding as veelsydige musikant aan om medemusikante na top verhoë te neem.
Chris, wat al baie televisie-optredes en radio-uitsendings agter die blad het, is ook be-kend vir sy pragtige sangstem wat by vele ge-leenthede gehoor word.
Sy jongste projek is om weer ’n plaaslike boere-orkes op die been te bring.“Opgewekte, voetestamp-boeremusieklekkertes is die stempel van ons nuwe Chris Brits boere-orkes. Ons wil met ons unieke instrumentale vermoëns ’n ware potjiekos van tradisionele en moderne styl musiek uitvoer,” het hy gesê.
Die orkeslede is Chris Brits op konsertina, Attie van Wyk op trekklavier, Collie Maritz agter die tromme, Niekie Bouwer op kitaar, Neels Cronjé op die banjo en Ilde Joubert op kitaar.
Die orkes is tans besig met voorbereiding vir vanjaar se Karoolus-fees wat op 28 en 29 September in Graaff-Reinet plaasvind.
Chris is ’n ervare verhoogsanger en opna-mekunstenaar wat al verskeie CD’s en ’n DVD vrygestel het.
“Maar boeremusiek bly in my bloed en ek het onlangs ingestem om deel te wees van Boeremusiek Internasionaal se projek om Suid-Afrikaanse boeremusiek ook in Nieu-Seeland, Australië en tot in Rusland op sosiale media te bevorder,” het Chris vertel.
Die sosiale mediagroep, Boeremusiek Internasionaal, het verlede Saterdagaand om 18:00 hul eerste program uit Wes-Australië ingelei met Chris en sy orkes se musiek.