Boerperd op verlede jaar se skou. FOTO: VERSKAF

Perdetelers van oor die land is geskok oor Kaapse Boerperde nie vanjaar welkom is op Cradock se landbouskou nie.

Volgens Ezelle Marais, president van die Kaapse Boerperdtelersvereniging, is hulle baie teleurgesteld oor die skoukomitee se finale besluit dat hulle nie meer hul perde op Cradock kan vertoon nie.

“Party van die vertoners ondersteun al vir sestig jaar Cradock se skou en die Suid-Afrikaanse kampioenskappe is al verskeie kere op Cradock aangebied. Nou is ons skielik nie meer welkom nie,” het sy gesê en bygevoeg dat dit ’n invloed het op telers van oor die hele land – van Johannesburg tot in die Kaap.

Sy het ook gesê dat baie mense wat saal- en boerperde het, nou nie meer Cradock se skou met net een ras sal ondersteun nie.

Marais het gesê sy kan nie verstaan waaarom Cradock al die jare alle rasse kon akkommodeer en nou skielik die boerperde wil uitsluit nie.

Volgens Hans Botha, vise-voorsitter van die boerperdtelersvereniging, het hulle aanvanklik gehoor dat daar nie genoeg stalle op Cradock is vir die boerperde nie.

Hul vereniging het toe aangebied om opslaanstalle vir hul perde te voorsien wat die skou-organiseerder, onder sekere voorwaardes, per brief gedateer 8 Augustus, aanvaar het.

Op 15 September is ’n brief egter ontvang waarin gesê word dat geen boerperdafdeling op Cradock skou aangebied sal word nie.

Marais het gesê die besluit is glo volgens ’n reël dat die ras wat die minste inskrywings het – wanneer nodig – uitgeskakel sal word.

Volgens syfers wat hulle vasgestel het, was daar verlede jaar 26 Walliese ponies teenoor 28 Boerperde op die skou.

Hendrik Opperman, president van Cradock Landbouskou, het by navraag gesê dat hy eers met ’n prokureur oor die saak wil praat voordat hy kommentaar aan Mid-Karoo Express hieroor sal kan gee.

Hy het egter gesê dat die uitsluiting van die Boerperde geen invloed op vanjaar se skou sal hê nie.

“Die stalle is reeds vol bespreek en ons beplan om op 26 en 27 Oktober ’n groter en beter skou as ooit tevore aan te bied,” het Opperman gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article