LYNETTE Lord is woonagtig op die plaas Alicedale in die Hofmeyrdistrik, op die grens van Steynsburg.

Hofmeyr VLV het haar onlangs genooi om die dames oor herwinning te kom toespreek.

Sy het voorverlede jaar betrokke geraak by talle opruimingsaksies in die dorp en omgewing, en voer dit steeds met groot deursettingsvermoë deur. Lynette is van nature ’n baie netjiese mens, en tel graag papiertjies oral op wat haar pla. Daarom was sy die ideale persoon om hierdie reuse opruimingsaksie namens Hofmeyr Toerisme van die grond af te kry.

Mid-Karoo Express het by ’n vorige geleentheid ook breedvoerig be-rig oor haar assistent in Hofmeyr se betrokkenheid om die dorp en woonbuurte skoon te probeer hou van plastieksakkies, plastiekbottels, papiere en veral ook goed soos ou matrasse, weggooidoeke wat ’n massiewe probleem is en kartondose.

Lynette stel dit duidelik dat geeneen van ons kan kla oor die omgewing, as dit in ons eie huis, tuin en oprit nie netjies is nie. “Sorteer jy jou eie vuilis en sorg dat herwinbare goed by Thulani se store in Hofmeyr afgelaai word? Is jou laaie netjies of gaar jy op en is daar talle goed wat daar rondlê wat jy in jou hele lewe op aarde nooit ooit sal gebruik nie?

“Gooi uit, want hierdie goed wat so opgegaar word, is vir jouself tot nadeel, al besef jy dit nie elke dag nie. Jy gaan ligter en met meer gemak deur die lewe kan gaan daarsonder as daarmee. Iewers is daar wel iemand wat dit dalk kan gebruik. As dit regtig onbruikbaar is, en as jy dit nie in die laaste jaar gebruik het nie, is die kanse goed dat jy dit nooit weer gaan gebruik nie.”

Plastiekbottels sonder proppies, karton, plastieksakke en papier is herwinbaar. “Sorg dat jy tuis en in jou tuin houers plaas waarin jy hierdie vuilis kan sorteer, en dan natuurlik moet jy ook onthou dat skille en eierdoppe ideale hoofbestanddele van enige suksesvolle kompos-hoop maak.”

Sy demonstreer hoe sy eenvou-dig haar houers in massiewe sakke leegmaak, en dit dan neem na Thulani se opruimingswerf agter die ou Residensie in De Bruinstraat om weer daar leeggemaak te word.

Hierdie sakke is beskikbaar by Lynette, wat dit weer bekom vanaf die besproeiingsboere in die omgewing, wat dieselfde sakke gebruik tydens oestye.

In samewerking met Thulani, reël sy vir vervoer na verskeie herwinningsmaatskappye, op die stadium op haar eie onkoste. Die opruiming is vir haar dus van so ’n groot belang, dat sy self ingespring het en iets daadwerkliks daaraan gedoen het. Sy het nie net gekla nie – sy doen daagliks iets daaraan! Op Hofmeyr is die grootste nood op die stadium ’n pers om die verskeie herwinbare produkte in vervoerbare bale te pers sodat spasie op die trokke wat dit verwyder, meer optimaal benut kan word.

Daarom bly haar vermaning dus dat as jou eie omgewing en kaste en laaie nie netjies en georden is nie, mag jy geen vinger wys na ’n omgewing waar plastieksakke en ge-mors oorneem nie. “Orden eers jou eie omgewing, en wees ’n voorbeeld, en dan kan jy deur jou voorbeeld jou omgewing verander en later jou hele dorp en uiteindelik jou hele land.”

You need to be Logged In to leave a comment.