SONJA van Aardt, wat as ’n onderwyseres opgelei is en met Kosie van Aardt getroud is, het onlangs ingestem om een van haar maklike resepte met Mid-Karoo Express se lesers te deel.
Hulle het ’n seun, Jaco (24), en ’n dogter, Luna (22). Sonja beskou haarself as iemand wat positief is en wat net haar lewe op aarde wil geniet. Sy is tans by die Swop Shop betrokke en is die voorsitter van die Tuinbou- en Leefstylklub, sowel as die Dameskring.
Sy hou van tuinmaak en stap en lees elke dag haar koerant; sy lê klem op die feit dat dit die papierweergawe moet wees, want sy wil die koerant in haar hande voel.
Om die lewe ’n bietjie makliker en meer plesierig vir plaaslike inwoners te maak, het sy haar resep vir ’n vinnige pannekoekvoorgereg gedeel.
Vinnige pannekoekvoorgereg
Bestanddele
. Pannekoek
1 koppie meel
¼ koppie olie
1 teelepel bakpoeier
1 eier
1 koppie water
¼ teelepel sout
1 eetlepel asyn
. Vulsel
1 blik tuna
1 gerasperde ui
2 gekookte eiers fyn gemaak
Agurkies, gerasperde kaas en toebroodjiesmeer na smaak
Metode
- Meng die pannekoekdeeg se droë bestanddele.
- Klits die water, eier en asyn saam.
- Roer die droë bestanddele by en meng tot dit ’n gladde mengsel vorm.
- Bak die pannekoek in ’n klein pannetjie van ongeveer 11 cm in deursnee om sowat 10 pannekoeke te kry.
- Meng die bestanddele vir die vulsel goed en bind met mayonnaise, melk en room.
- Smeer die vulsel op die pannekoeke, rol dit op en pak dit styf teen mekaar in ’n bak.
- Maak ’n dun sous van mayonnaise en melk en maak die pannekoeke net klam bo-op. Dit moenie in die sous swem nie.
- Bedek die bak met foelie en bak teen 140 °C vir omtrent 45 minute totdat die gereg regdeur warm is en bedien.