LYNETTE Lord, boervrou van die plaas Alicedale in die Hofmeyrdistrik, het uit radeloosheid self begin om te organiseer dat die vuilgoed wat rondom Hofmeyr die wêreld vol lê, opgeruim word.
Sy het as lid van die Hofmeyr Toerismekomitee, hierdie reuse taak op haar skouers geneem. Alhoewel dit soms vir haar voel asof sy nooit al die gemors opgeruim sal kry nie, bly sy bereidwillig en het sy nou ook ’n persoon in Hofmeyrdorp aangestel om haar te help.
Die agterplaas van die ou verwaarloosde residensie, waarvan al die plafonne, vloere, deure en vensters gesteel is, dien nou as opgaarterrein waar mense karton, plastiek, glas en papier, wat reeds in baalverpakking is, kan aflaai.
Hier word dit dan verder hanteer deur die onderskeie maatskappye wat betrokke is by die herwinning van hierdie pro-dukte.
Ongelukkig is daar mense wat glo dat die skoonmaak en opruim van vullis nie hul probleem is nie, en daarom gooi hulle ook graag weggooidoeke, koeldrankbottels, papier, karton en plastiese verpakkingsmateriaal eenvoudig langs die pad, of in die openbare parkies in die dorp en laat dit daar vir andere om na om te sien.
’n Opvoedingsaksie om hierdie pro-bleem in die toekoms hok te slaan word nou in samewerking met die skole op Hofmeyr en distrik, in die vooruitsig gestel.