ONS ken almal seer sekerlik ’n vriend, fami-lielid of selfs net ’n gewone kennis wie se lewenskersie ons by tye voel net eenvoudig te vroeg uitgeknikker is.
Iemand wat ’n blywende indruk op ons gemaak het en wie telkens in ons geheue kom vassteek. Die sulkes met wie ons graag nog ’n paar pasellajare op hierdie aarde sou wou wandel.
So iemand was my geliefde boeta Brooks van doer uit my kinderdae. Hy was een van my vele ooms wat met sy humorsin en sy karakter my brose kinderverbeelding aangegryp het.
Boeta Brooks het in my laerskooldae vir ’n Duitse algemene handelaar op ons dorp mudsakke mielies vanaf ’n naburige treinstasie aangery. Met ’n bottelgroen Leylandtrok van daardie tyd. Die soort waarvan die voet en uitlaatstelselbrieke hand aan hand gewerk het. Ons laaities kon altyd tog té lekker op die goiingsakke vol mielies baljaar.
Daar was destyds ook sulke suikerklontlekkertjies wat in soortgelyke sakke verpak was. In die winkels van toet het dit as “common sweets” bekend gestaan en is gewoonlik gratis by die vele winkels aan ons kindertjies uitge-deel.
Van Boeta Brooks het ons ook gereeld ons kwota ontvang.
Naweke het ons saam met Boeta Brooks goedere by die vele klein winkeltjies in die aangrensende Xhosa-laere gaan aflewer. Op hierdie uitstappies sou Boeta Brooks ons dan in die fynere kunsies van motor bestuur tou-wys maak.
Op ’n gelyke pad sou hy ons beurtelings op sy skoot sitmaak terwyl ons ewe kordaat die stuurwiel vashou. Op so ’n uitstappie sou hy ons oordadig met lekkernye bederf.
Hoewel hy jare ouer as ons was het hy ons nooit soos kinders laat voel nie en het hy ons met dieselfde respek behandel as wat ons vir hom gehad het.
Wanneer hy ’n storie vertel het, het ons aan sy lippe gehang.
En toe een Saterdag verongeluk Boeta Brooks met die familie Zephyr. By ’n haarnaalddraai op een van die destydse berugte grondpaaie. Een van ons ooms kom in die ongeluk om, maar Boeta Brooks en sy jonger broer kom skotvry daarvan af. Of altans, so het ons gedink.
Want skaars ’n week later gaan Boeta Brooks saggies heen aan wat later sou blyk inwendige beserings was.
En daar sit ons toe destyds met ’n dubbele tragedie.
Vandag nog, wanneer ek die woorde: “Gone too soon” op ’n grafsteen lees gaan steek my gedagtes by Boeta Brooks vas. Dis dan dat ek onwillekeurig ’n traan van my wang wegpink.