Beste leser,

Laat ek met die deur in die huis val: Vanaf 20 Julie 2018 gaan slegs die Vrydag-uitgawe van Die Burger in papierformaat in die Oos-Kaap verskyn.

Die res van die week se uitgawes sal steeds saamgestel en uitgegee word, maar ons skuif dit oor na ons digitale tuiste, Netwerk24. Die Saterdag-uitgawe val weg.

Tesame hiermee bou ons Die Burger Oos- Kaap se Vrydag-uitgawe uit tot ’n volwaar-dige naweekkoerant – steeds in papierformaat. (Meer hieroor later.)

Die rede vir hierdie ingreep is eenvoudig. Dit het onvolhoubaar geword om Die Burger ses dae van die week in papierformaat uit te gee. Papier, drukwerk en brandstof kos te veel om ’n streekuitgawe met ’n relatief klein sirkulasie oor so groot provinsie soos die Oos-Kaap te versprei.

Lesers kry ook toenemend hul nuus aanlyn en ondernemings adverteer al hoe meer hul produkte digitaal. Dit is ’n tendens wat koerante wêreldwyd raak en net dié wat betyds en beslissend reageer, bly voortbestaan.

Die pad vorentoe vir Die Burger se Oos-Kaapse uitgawe lyk dus so:

. Ten eerste, daar is geen planne om Die Burger aan die Oos-Kaap te onttrek nie. Ons verbintenis met die Oos-Kaap strek agt dekades terug na 1937 en ons is vasbeslote om dit voort te sit. Ten gronde van die stappe wat ons nou doen, lê juis die behoud van gehaltejoernalistiek in Afrikaans ten bate van die hele provinsie.

.Ewe belangrik, al die weeksdag-uitgawes sal steeds beskikbaar wees – presies soos dit in papierformaat lyk, met advertensies en al – op jou slimfoon, tablet of rekenaar.

. Op Vrydae sal Die Burger wel as ’n breëblad-papierkoerant verskyn, met ’n stewige nuwe bylae, Naweek, daarby ingesluit. In sy geheel sal dié pakket ’n veel sterker Oos- Kaapse fokus hê as tans. Dié versterkte Vrydag-aanbod sal reeds vanaf Vrydag, 22 Junie beskikbaar wees.

. Zigi Ekron, ’n ervare hand in die joernalistiek is pas as Oos-Kaapse inhoudsbe-stuurder aangestel om aan die stuur van dié belangrike oefening te staan. Ons stel hom môre (Vrydag) amptelik in Die Burger be-kend, maar in ’n loopbaan wat oor byna twee dekades strek, het hy onder meer gewerk as hoofverslaggewer van Die Burger, waarnemende nuusredakteur en ook redakteur van WegSleep.

.Daar is geen plan om Die Burger in die Wes-Kaap, Media24 se oudste koerant wat al sedert 1915 verskyn, se publikasieritme te verander nie.

Hierdie oorskakeling – nie ewe gemaklik vir almal nie, ons weet – gaan gepaard met ’n intekenaanbod op ’n digitale pakket wat meer waarde bied as enige ander tot nog toe.

Kortom, as jy vir R99 per maand inteken op Die Burger kry jy op Netwerk24 ook toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 Afrikaanse koerante. Dit is benewens die papier-koerant met sy Naweek-bylaag wat op Vry-dae afgelewer word, Maandag tot Vrydag se digitale uitgawes van jou daaglikse koerant én die digitale uitgawes van vier Oos- Kaapse gemeenskapskoerante, die weeklikse PE Express, UD Express, Kouga Express en die Mid-Karoo Express.

Wat beteken dit dan vir jou as jy ingeteken is op ’n papierkoerant op Saterdae, met toegang tot Netwerk24? Hierdie verandering beteken dat jy op 14 Julie 2018 die laaste Saterdag-uitgawe van die papierkoerant afge- lewer sal kry, en vanaf 20 Julie 2018 ’n papierkoerant (met die Naweek-bylaag) op Vrydae sal ontvang.

Jou Netwerk24-toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante bly onveranderd.

Ons intekenare-afdeling sal binnekort met intekenare in verbinding wees oor die praktiese reëlings vir jou intekening en sal ook die meeste van jou vrae kan antwoord.

Sou jy egter voor dan met ons wil gesels, kan jy ons bel by 087 740 1062, of die woord “Oos” sms na 31069 (die intekenare-afdeling sal jou dan bel), of ’n e-pos stuur na intekenare@media24.com.

Nogmaals baie dankie dat ons deel van jou koerante-wêreld kan wees; getroue lesers soos jy is ’n groot inspirasie vir ons span om daagliks die beste moontlike koerant uit te gee. Ek hoop dat jy deel sal bly van die pad vorentoe. Hou gerus Die Burger dop in die weke wat kom oor verdere besonderhede.

Met beste wense.

Willem Jordaan

Redakteur: Die Burger

You need to be Logged In to leave a comment.