WILLIAM Hayward, een van die min oorlewendes van die vyfde geslag van die 1820 Hayward Britse Setlaars wat hulle in die Oos-Kaap gevestig het, het onlangs sy 90ste verjaardag gevier.
Sy voorouers wat in Algoabaai voet aan wal gesit het, was James Hayward en Mary Skinner. James en sy twee broers, William en George Hayward, was deel van die Menezes-groep aan boord die Weymouth-skip wat op 15 Mei 1820 anker gegooi het.
’n Model van die skip en van hul oorspronklike meubels pryk vandag in ’n paar PE-museums.
William, bekend as Will, is gebore op 2 Augustus 1928 in ’n kamer op die plaas Kleinplaas in die Steytlerville-distrik as die jongste van agt kinders. Vandag is daar steeds heelwat Haywards in die Oos-Kaap, veral in die Steytlerville-omgewing.
Talle is met boernooiens getroud en het gevolglik Afrikaanssprekend geword. Will het soos talle seuns van sy ouderdom reeds op 16-jarige ouderdom begin boer op die plaas Doornrivier.
Hy het met Anna Bothma getrou en vier kinders is uit die huwelik gebore – Louis, Desireé, Wilbur en Edith. Hy het uiteindelik die plaas oorgegee aan Louis en vir sowat 12 jaar op die plaas Drieklofies gewoon voordat hy en Anna ongeveer twee jaar gelede na ’n aftree-oord op Kirkwood verhuis het.
Will is ’n geliefde oud-boer en een van die beste windpompkenners in die Oos-Kaap. Baie van die windpompe wat hy reg oor die streek opgerig of reggemaak het, is vandag steeds in werkende toestand.
As ’n ware storieverteller het hy nie sy gelyke in die streek nie.
Will se vrou, kinders, skoonkinders, 13 kleinkinders en drie agterkleinkinders is geseënd om hierdie merkwaardige man steeds in hulle midde te hê. Die hele familie het sy 90ste verjaarsdag op die plaas Doornrivier in die Steytlerville-distrik gevier.