’n BROODAFLEWERAAR en sy assistent is die afgelope Saterdag op Hertzog in die Katriviervallei deur gewapende rowers oorval.
Die twee ongeïdentifiseerde werknemers van ’n bekende bakkery was besig om brood af te lewer en geld te kollekteer toe hulle in die lokval vasgeloop het. Die drywer van die bakkie is dood en sy assistent is beseer in die voorval.
Luidens die 27-jarige Nqaba Mothlabane, winkelassistent by Hertzog Supermark, het drie onbekende mans die afgelope Saterdagmiddag op die winkel se stoep rondgestaan. Omstreeks 15:00 het die broodtrok opgedaag en het die assistent binne die winkel geld deur ’n geslote tra-liehek aan die afleweringswa se assistent oorhandig. Toe dié in die rigting van die trok wegstap, het een van die mans ’n skoot afgevuur en hom in die bobeen getref. Nadat hulle die geld by hom afgeneem het, het hulle na die broodtrok se kajuit gestap en ’n skoot op die drywer afge-vuur wat hom in die bolyf getref het. Hy kon daarin slaag om weg te ry maar die trok het deur die heining van ’n skool gebars waar dit tot stilstand gekom het. Hy het agter die stuurwiel aan sy skietwond beswyk. Die drie verdagtes wat almal gewapen was, het die bosse ingevlug.
Die polisie op Seymour het bevestig dat ’n man in die voorval aan ’n koeëlwond beswyk het en dat sy assistent met ’n skietwond in die bobeen in die hospitaal opgeneem is. Teen druktyd kon die oorledene se identiteit nog nie bekend gemaak word nie. Sake van moord en poging tot moord word deur die polisie ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
In nog ’n voorval verlede Dinsdag het drie gewapende mans omstreeks 11:40 ’n geldwa voor Fort Beaufort se Superspar beroof. Die geldwagte was besig om geld in ’n tellermasjien te laai toe hulle oorrompel en ontwapen is. Die rowers het met die geld op die vlug geslaan.
Vreesbevange omstanders het binne die winkel pandemonium gesaai terwyl hulle op soek na skuiling was. Die mans is skaars vier ure later in ’n naburige woonbuurt vasgetrek, danksy flinke polisie-optrede. ’n Totaal van vier vuurwapens en van die geroofde geld is in hul besit gevind.
Provinsiale polisiekommissaris, Lt. Kol. Liziwe Ntshinga het die polisie vir hul vinnige optrede geloof.