LUKHANYO Calata, seun van een van die Cradock Vier, en sy vrou Abigail het hul boek My Father Died For This op die onlangse Schreiner-skrywersfees op Cradock bekendgestel.
Calata, wat maar drie jaar oud was toe sy pa, Fort Calata in 1985 saam met sy vriend Matthew Goniwe en Sicelo Mhlawuli en Sparro Mkonto vermoor is, maak baie staat op sy familiegeskiedenis en die invloed wat sy oupa, Kanon James Arthur Calata en sy vrou, Miltha Mary, op die gesin het.
Die boekbekendstelling het op 20 Julie vanjaar by die Cradock Vier-monument op ’n koppie buite Cradock plaasgevind. Dit was presies 31 jaar ná die begrafnis van die “Cradock Vier” –soos dié mans internasionaal bekend geraak het.
Calata, wat by die begrafnis as driejarige seuntjie angsbevange aan sy swanger ma, Nomonde, se rok vasgeklou het, was oorweldig deur die skare van meer as 60 000 wat die begrafnis bygewoon het.
Hy vertel in die boek hoe bang hy was dat die aarde sou oopbreek van die groot gestamp van voete, en dat hulle almal verswelg sal word.
Verskeie outeurs het al gewaag om die storie van die Cradock Vier te vertel, maar hierdie vertelling kom uit die hart van die gesin wat die leed ondervind het.
Die storie van die Lingelihle-woonbuurt, wat Calata as ’n uitsonderlike plek in die geskiedenis van Suid-Afrika beskryf, is die resultaat van baie onderhoude en intense navorsing.
Calata het tydens die boekbekendstelling vertel van die belangrike rol wat sy oupa, Kanon James Calata (wat in 1936 tot sekretaris-generaal van die ANC verkies is) in die hele gesin se lewe gespeel het.
Hy het dié man as uitsonderlik en iemand wat meer as een leeftyd geleef en gedoen het, be-skryf.
Die jong Calata het self ook intense navorsing gedoen en vertel hoe bly hy is dat hy in Michausdal kon skoolgaan en sodoende Afrikaans magtig is. Dit het hom toegang tot Afrikaanse verslae en dokumente gegee wat baie van sy Engelssprekende vriende nie kon lees nie.
Calata, ’n joernalis wat die boek saam met sy mede-joernalis vrou, Abigail, geskryf het, was verbonde aan die personeel van die SABC en was een van die agt mense wat destyds hul werk verloor het.
Toe vriende daarna na sy huis kom en hom aanmoedig om oor die gebeurlikhede by die SABC te skryf, het hy besef dat hy liewer sy pa se storie sal wil skryf en só het My Father Died For This, die lig gesien.