Chicken Runners toer met bromponies deur Oos-Kaap

ELF bont Vespa-bromponies het op Woensdag, 4 April die parkeerruimte voor Middelburg se Keg & Springbok-restaurant beset nadat die motorfietsryers in ’n gietende reënbui vanaf Cradock gery het.


ELF bont Vespa-bromponies het op Woensdag, 4 April die parkeerruimte voor Middelburg se Keg & Springbok-restaurant beset nadat die motorfietsryers in ’n gietende reënbui vanaf Cradock gery het.

Die Chicken Runners, soos die ryers be-kendstaan, is van Roodepoort afkomstig en hulle het op hul Oos-Kaapse toer (via Queenstown, Oos-Londen, Bathurst en Port Elizabeth) op hul pad terug in Middelburg oornag.

Die 11 ryers (plus een agterryer wat al die onderdele en noodsaaklike bagasie vervoer) se ouderdomme wissel van 40 jaar – Neville Bruwer – tot die 80-jarige Stafford Peché.

Hierdie toer is juis die “Stafford Tribute Run” genoem as eerbewys aan Peché wat in sy leeftyd al duisende kilometers op verskeie motorfietse en bromponies afgelê het.

Sy geskatte totale afstand afgelê tot op hede is ongeveer 600 000km op twee wiele, waarvan 160 000km net op Vespas gery was.

Hy vertel ook dat meeste van die langafstande individueel en man-alleen afgelê is en nie in so ’n groepsverband nie. Hierdie groeptoer is amper vir hom ’n eerste en hy het dit gate uit geniet.

Vanjaar se Oos-Kaapse toer van ongeveer 2 700km is die Chicken Runners Vespa-vriende se sewende toer wat hulle afgelê het en dit is deur Ravenol motorolie geborg. Hulle het op 30 Maart uit Roodepoort vertrek en almal het weer op 6 April veilig in Roodepoort aangekom.

Hul heel eerste toer was na Kaapstad. Hul grootste toerprestasies is onder meer dat hulle na al vier die wydste windrigtings van Suid-Afrika – L’Agulhas (Suidelikste punt van Afrika), Pontdrif in die Noorde, Alexanderbaai in die Weste en Sodwana via Swaziland in die Ooste gery het. Verder het hulle verlede jaar met die Vespas selfs reg rondom Lesotho gery.

Volgens een van die toerlede, Dawie Ras, gaan die fondse wat hulle met hierdie toer ingesamel het aan die AD Care-groep (Alzheimer en demensie) geskenk word.

You need to be Logged In to leave a comment.