DIE o.15-krieketspan van die Hoërskool Cradock (CHS) het op 23 Januarie met die Hoër Volkskool kragte gemeet te Graaff-Reinet.
Volkskool stuur CHS in om eerste te kolf op ’n moeilike kolfblad wat goeie bystand aan die boulers gebied het.
CHS verloor paaltjies op ’n gereelde basis, maar Niel Slabbert wys hoekom hy reeds op laerskool-vlak vir OP gespeel het.
Hy kolf baie bestendig en teken 32 lopies aan. CHS teken 89/7 aan in hul toegelate 25 boulbeurte.
Volkskool kolf aanvanklik baie gemaklik en met die telling op 60/3 het dit gelyk of hulle CHS se telling met gemak gaan haal.
Musa Green boul uitstekend en neem 4 paaltjies vir slegs 5 lopies en 4 boulbeurte. Niel Slabbert stonk 2 kolwers met puik werk agter die paaltjies. Musa is goed bygestaan deur Denzel Meyers wat 2 paaltjies neem en Sibulele Payo wat 3 paaltjies laat kantel.
Spesiale melding mooet gemaak word van ’n briljante vangskoot wat Lehman Williams benut het. Só ’n vangskoot word nie aldag op o.15-vlak gesien nie.
Baie geluk aan CHS se o.15-span vir die veggees wat hul getoon het om sodoende die wedstryd met 13 lopies te wen.