Marissa du Plessis, matrikulant van CHS, se gedig “Dieselfde Kam” is gekies om in die Poort-tydskrif te verskyn. FOTO’s: VERSKAF


TWEE leerders van die Hoërskool Cradock is gekies om hul poësie in die Poort-tydskrif te publiseer.

Dit is ’n baie groot prestasie vir Marissa du Plessis (gr. 12 in 2017) en Shané de Waal (gr. 12) om onder die Top 100- inskrywings gekies te word. Twee gedigte van Marissa is: Droom en Heuningkind. Shané se gedig is Dieselfde Kam.

Die Poort-skryfkompetisie word deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns aangebied.

Die keurders van vanjaar se inskrywings was Etienne le Roux (Hertzogpyrswenner), Marlene van Niekerk (Hertzogpryswenner), Daniel Hugo (bekroonde digter en vertaler) en Antjie Krog (Hertzogpryswenner).

Hierdie is die sesde agtereenvolgende jaar wat CHS leerders het wat in Poort publiseer.

In 2016 het CHS ook ’n nasionale wenner opgelewer toe Alet Janse van Rensburg aangewys is as nasionale wenner in die poësie-afdeling.

Alet is tans ’n tweedejaarstudent aan die Noordwes Universiteit se kampus in Potchefstroom.

You need to be Logged In to leave a comment.