’n PAAR leerders van die Hoërskool Cradock het onlangs onder die wakende oog van Abrie le Roux, onderwyser, weer die kano’s onder die seile uitgehaal, afgestof en te water gelaat. CHS is nie verniet feitlik op die walle van die Visrivier nie!
Cradock, waar een van die grootste kano-marathons ter wêreld jaarliks plaasvind, is ’n mekka vir hierdie gewilde sportsoort en die leerders van CHS wat opnuut hierdie sport tot herlewing geroep het, beweer dat hulle sommer binnekort groot “flat water racing” skole soos St. Andrews, St. Stithians en Rondebosch ’n ding of twee gaan wys. Die Grassridgedam is immers mos net ’n spaan-gooi van Cradock af.
“Maar”, sê Le Roux, “daar moet nog baie water in die rivier loop, want dié Karoo-kinders is nog meer in die water as die kano!”
Die leerders se toewyding is verblydend om te sien. So tussen die pendorings, die riet-skrape en die seer spiere is dit groot-groot pret.