In die foto is die geesdriftige nuwe leerlingraad van die Hoërskool Cradock ná afloop van hul inhuldigingseremonie op 31 Augustus. Hulle is heel agter van links Chamrine Booysen, Elanie de Wet, Garth Bezuidenhout, Pieter-Ben Smit, Martin Labuschagne, Liyema Bobelo en Raymond Tom. In die middel is Sisanda Zenzile, Anika Marais, Siya Mashicila, Emihle Bunu, Elize-Mari Gerber, Liesl-Mari Jonker en Anika Hay. Voor sit Sicgobile Nkosana, Sengi Mntambo, Ian Schoeman, Willem Karsten, Bruzelia Martins en Andrea Felix. FOTO: VERSKAF


OP Vrydag 31 Augustus is die nuwe leerlingraad van die Hoërskool Cradock amptelik ingehuldig tot hul termyn. Hierdie groep van twintig leiers is die week vantevore verkies deur hul mede-leerders en onderwyser en sal vir die volgende twaalf maande die voortou neem met leerderbelange en dissipline by CHS. Hierdie raad sal saam met die personeel en bestuur van CHS ook help die skool se beeld uit te bou.

Tydens die seremonie, waar hul ouers en voogde ook teenwoordig was, het elke lid van hierdie nuutverkose raad ’n eed afgelê waarin hulle onderneem om te alle tye in die beste belang van die skool en sy leerders op te tree, waarna hulle die eed saam met hul ouers onderteken het.

Die Hoërskool Cradock is baie opgewonde oor die termyn wat vir hierdie leerdergraad voorlê. Hul geesdrif en energie is tasbaar en sal die dryfkrag wees agter elke aktiwiteit wat hulle as groep aanpak.

Die leerdergraad vertrek eersdaags op ’n leierskamp, aangebeid deur Quintus Smit van Pointman Leadership, waar hulle in ’n neutrale omgewing weg van skoolwerk mekaar beter kan leer ken. Tydens hierdie kamp sal die leerders ook bemagtig word om verskeie take en omstandighede, wat hulle in hul termyn kan teëkom, maklik en effektief te hanteer. Sterkte vir die jaar wat voorlê Kwaggas. Ons wens julle alle voorspoed toe en sou onguns oor jul pad kom, onthou: “NIL NISI NITENDO”.

You need to be Logged In to leave a comment.