CHS leerlingraad versterk vriendskappe tydens kamp

DIE nuwe leerlingraad van die Hoërskool Cradock het onlangs ’n leierskamp by De Keur in die Hofmeyr-distrik bygewoon.


DIE nuwe leerlingraad van die Hoërskool Cradock het onlangs ’n leierskamp by De Keur in die Hofmeyr-distrik bygewoon.

Die groep van 20 leerders en drie voogde het reeds vroegoggend vertrek vir twee volle dae van leer en lag.

Quintus Smit van Pointman Leadership, ’n internasionale organisasie wat fokus op die ontwikkeling van leierskap, tree reeds die laaste 12 jaar op as programleier en inspireer en motiveer die leerlingraad jaar na jaar om tot die beste moontlike leiers en individue te ontwikkel. Vanjaar was geen uitsondering nie.

Deur middel van groepsaktiwiteite en gesprekke het Smit die Kwaggas gelei om die sterk karaktereienskappe in mekaar raak te sien, elkeen hulle eie leierskapstyl te identifiseer asook te bepaal watter aksie en vermoëns nodig is om ’n sukses van hul termyn as leerlingraad te maak.

Hoewel daar ’n paar eerlike en ernstige gesprekke gevoer is, het die groep ook ontspan en mekaar in ’n neutrale omgewing beter leer ken. Nuwe vriendskappe is gevorm en bestaandes verdiep.

Die leerders het ook hul waagmoed gewys toe hulle saam met die span van Karoo River Rafting ’n paar uur op die rivier spandeer het. Daar is behoorlik gelag en enige vrese of bekommernisse is sommer vinnig by die deur, of dan eerder die boot, uitgegooi toe die leerders die waters aandurf en selfs oor ’n twee-meter hoë dwarsmuur geroei het.

Hoewel die groep leerders reeds bekend is vir hul energie en lewenslus, moet daar melding gemaak word van hul tasbare passie vir hul skool en mede-leerders. Die toekoms is blink vir die groep leiers wat, as span, saam ’n positiewe impak wil maak op hul skool en omgewing.

You need to be Logged In to leave a comment.