DIE leerders en personeel van die Hoërskool Cradock moes aan die einde van die derde kwartaal afskeid neem van twee groot geeste by CHS.
Adolf Gouws en Abrie le Roux het albei onlangs poste aanvaar wat hulle neem na die Wes-Kaap, waar hulle onderskeidelik in Mosselbaai en Worcester ’n nuwe hoofstuk in hul loopbane sal begin.
Gouws is aangestel as skoolhoof by die Hoërskool Punt, terwyl Le Roux die pos van adjunkhoof by Worcester Gimnasium aanvaar het.
Vir amper drie dekades was Le Roux verbonde aan CHS as onderwyser, sportafrigter, mentor en vertroueling vir baie. In sy klaskamer kon leerders op interessante en interaktiewe maniere lewenswetenskappe en natuurwetenskappe leer.
As sportafrigter het hy sy spelers ondersteun en bemoedig om altyd hul beste te gee.
Gouws het vier jaar gelede by die Kwaggafamilie aangesluit en sommer vinnig sy plek by CHS volgestaan. As skoolhoof het hy daadwerklike planne in plek gesit om die skool uit te bou en met behulp van die ouers en personeel van CHS hard gewerk om die doelwitte van die skool en sy leerders te bereik.
Gouws het met ’n streng hand orde verseker, maar ook altyd tyd ingeruim vir pret en ontspanning.
Vir hom is die leerders en hul leerervaring van uiterste belang, terwyl die holistiese ontwikkeling van elke jongmens nooit te ver op die agtergrond is nie.
Hul spore wat by CHS agterbly en die invloed wat albei op die lewens van die leerders van Cradock gehad het, is onbeskryflik.
Hul verbintenis met die Hoërskool Cradock het die skool se werksaamhede en toekoms onherroeplik verander en dit is met groot hartseer dat die Kwaggafamilie die twee reuse groet.
Die beste wense van voorspoed en sukses vergesel Gouws en Le Roux.