DIE afgelope naweek het die Laerskool Cradock se eerste- en tweede hokkiespanne na Graaff-Reinet gereis vir die jaarlikse wedstryde tussen die twee skole.
Die tweede span was eerste aan die beurt. Die wedstryd het in goeie gees plaasgevind. Cradock het daarin geslaag om in die laaste minuut ’n doel aan te teken en sodoende die wedstryd 1-0 te wen.
Die twee eerste spanne het in ’n titaniese stryd teen mekaar te staan gekom. CLS het van die afslaan af aanvallende hokkie gespeel en twee korthoekies afgedwing. Ongelukkig is nie een hiervan in doele omgeskakel nie.
’n Goeie aangee deur die kaptein , Irene van der Nest, wat die bal veld-op na die kookwater middeveldspeler, Evelna Watson, gespeel het, het gelei tot ’n pragdoel toe Evelna die bal mooi in die sirkel geplaas het sodat Zana Jordaan in die uitstekende spanpoging die doel kon beklink. Volkskool het kort voor rustyd daarin geslaag om ook ’n doel aan te teken.
Ná volgehoue druk het CLS ’n korthoekie afgedwing waarna Zanél Philps die wendoel aangeteken het.
CLS se hokkiebokkies het vanjaar ’n uitsonderlike rekord – in 15 wedstryde teken hul altesaam 47 doele aan en staan net 5 af.