CRADOCK se junior akteurs is terug in die skoolbanke en hulle is nou geweldig in die kollig nadat die eerste episode van die reeks Spoorloos verlede week op televisie uitgesaai is.
Niel Slabbert, wat die rol van Jan-Gustav Malan vertolk, stel glad nie belang in ’n loopbaan as akteur nie, terwyl Charl Fleurs, wat Keagan Arendse in die TV-reeks speel en Ineke van der Merwe wat Esti Taljaard speel, graag akteurs sal wil word.
Niel en Charl, albei in gr.8 by die Hoërskool Cradock, en Ineke in gr.5 in die Laerskool Cradock, is baie opgewonde ná die wonderlike geleentheid wat hulle te beurt geval het.
Charl sê hy het dit amper nie gemaak nie aangesien hy ná die oudisie verneem het dat hulle nie meer sy rol gaan gebruik nie. ’n Paar maande later het hy die wonderlike boodskap gekry dat hy weer in is.
Al drie van hulle het maklik hul woorde geleer, en sê dit was redelik maklik gewees om op te tree aangesien tonele eers ’n paar keer geoefen word voor dit opgeneem word.
Charl sê hy kry baie aandag noudat die film begin draai het, maar hy het maar lekker gestres voor die tyd. Hy en Niel het mekaar voor die film net geken, maar ná hulle gesamentlike ondervinding is hulle nou groot vriende.
Niel sê dat dit baie meer werk was as wat hy ooit gedink het.
“Party dae het ons heeldag geskiet en veral toe ek Johannesburg toe moes gaan vir sekere tonele, het ons van 09:00 tot 21:00 geskiet,” het hy vertel.
Hulle het albei meer geld verdien as wat hulle gedink het hulle sou en elkeen het ’n bietjie gebruik en bêre nou die res vir “later”.
Ineke sê sy het baie nuwe dinge geleer en dit was baie interessant om te sien hoe ’n film gemaak word.
Ná die eerste episode waar sy Frikkie Botha (gespeel deur Janré du Toit) se selfoon vir hom uit sy ma se handsak gegaps het, het baie mense haar goediglik oor haar lang vingers gespot. Terwyl haar sussie en nefies haar ook terg, bars haar ouma en oupa van trots oor haar prestasie.
Dit was vir haar lekker om die bekende akteurs te ontmoet en sy het baie “selfies” saam met hulle geneem.
Hendrey Smit speel die rol van Sarel in Spoorloos terwyl verskeie onderwyseresse en lede van Cradock se publiek ook in die TV-reeks te sien is.