IN Cradock se geskiedkundige begraafplaas wat om verskeie redes graag deur toeriste besoek word, is dit deesdae net die heel hoogste grafstene wat bokant die onkruid uitsteek.
Gedenktekens wat graag deur veral Engelse toeriste besoek word, is dié van soldate wat in die Anglo Boere-oorlog in hierdie omgewing gesterf het en wie se oorskot ná die oorlog in die begraafplaas herbegrawe is.
Hierdie grafte het vantevore onder vandale deurgeloop toe al die ysterkruise wat opgesit is, deur skrootysterstropers gesteel is.
Een van die dorp se groot geskiedkundiges, Douglas Ferguson, wat ’n tydjie gelede oorlede is, het destyds groot moeite gedoen om die name en plekke van die soldate se grafte weer aan te dui.
Een van Cradock se helde van die Boere-oorlog, generaal Pieter Hendrik Kritzinger, is ook op Cradock begrawe.
Die graf van Reginald Koettlitz, wat saam met Robert F Scott op sy eerste Poolekspedisie gegaan het, en sy vrou Marie is een die mees geskiedkundige grafte, terwyl dié van die ambagsman, Harry Potter, wat op 46-jarige ouderdom gesterf het, ook groot belangstelling ontlok, veral onder aanhangers van JK Rowling se boeke.
Geen poging word tot dusver aangewend om die begraafplaas skoon te maak nie en die onkruid is nou vol in saad.
Met die onlangse opname van die televi-
siereeks, Spoorloos, moes tonele in die begraafplaas geskiet word.
’n Klein akkertjie is toe skoongeskoffel, vermoedelik deur die televisiespan.