Cradock dae sonder water en krag

VERBRUIKERS in Cradock is steeds besig om die skade van verlede week se driedaagse kragonderbreking te verwerk.


VERBRUIKERS in Cradock is steeds besig om die skade van verlede week se driedaagse kragonderbreking te verwerk.

Net voor die ligte in sekere dele van die dorp verlede Woensdagaand, 4 Julie, aangekom het, het die krane in dieselfde deel van die dorp leeggeloop en was daar geen watervoorsiening.

Volgens ’n skrywe van die munisipale bestuurder van Inxuba Yethemba-munisipaliteit, is die kragonderbreking veroorsaak deur die substasie in Albertstraat wat glo ontplof het.

Inwoners van dié dorp was as gevolg daarvan van Maandag, 2 Julie om ongeveer 09:00 tot die daaropvolgende Woensdagmiddag om 17:00 gestrand sonder enige krag.

Weens ’n gebrek aan elektrisiteit kon water nie na die suiweringsdamme gepomp word nie en was dieselfde groep inwoners van 21:00 Woensdagaand tot laat Donderdagmiddag sonder water.

Benewens die groot ongerief, is onmeetbare skade ook aan rekenaars wat geblaas het, kos in vrieskaste wat sleg geword het, geisers wat onklaar geraak het en nog baie meer aangerig.

Sommige besighede moes inderhaas krag-opwekkers in die hande probeer kry en sit nou met groot brandstofrekeninge.

Kleiner besighede soos haarkappers se kliënte kon vir drie dae nie geholpe raak nie en tuisnywerhede waar kos sleg geword het, het ook groot verliese gely.

“Ons moes die hele Donderdag bak om ons voorraad weer op te bou en die artikels wat sleg geword het, te vervang en nou het ons nie eers water om al die skottelgoed te was nie,” het Anne-Marie Rapp, eienaar van ’n tuisnywerheid op die dorp baie ontsteld gesê.

Levina Nel van die plaaslike tehuis vir bejaardes het ook vertel hoe hulle gesukkel het om hul inwoners gedurende die kragonderbreking te versorg.

Die krag- en wateronderbreking het op ’n baie slegte tyd gekom toe die eerste groot koue van die winter die gebied getref het en minus temperature elke nag en vroegogend ondervind is.

You need to be Logged In to leave a comment.